Madelaine le Roux (24), wat pas haar finale jaar as onderwysstudent aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het, gaan nou in 2022 professioneel in Europa fietsry as deel van die UCI World Cycling Centre se vrouespan.
Madelaine vertel sy het sedert sy in Augustus 2020 regtig aan fietsry begin aandag gee het, saam met die Sandton City-span van Johannesburg gery. “So het Jo-Anna van der Winkel, wat saam met my gery het, my sport-CV en my profiel aan Ashley Moolman aangestuur. Dit was die Maandagaand. Die Donderdagaand het ek ‘n e-pos gekry en hulle het vir my gesê daar is plek vir my in die span.”
Madelaine vertel sy is baie opgewonde oor wat in 2022 vir haar voorlê. Sy gaan saam met ‘n groot groep fietsryers van verskillende lande woon en aan verskeie wedrenne deelneem. “Dit sal die eerste keer wees wat ek in Switserland is! Ek was met die universiteit se driekamp-toernooie al land uit, maar nog nie in Switserland nie.”
Sy vertel hoe sy kort voor dié aanbod as onderwysstudent nog op soek was na ‘n onderwyspos vir volgende jaar. “Ek het al my CV begin uitstuur, maar ek het nog niks gekry nie. Ek het dit later eers uitgestel om te kyk of iets anders nie sal gebeur nie, want ek was so bang as ek voltyds werk, my droom om fiets te ry nie sou realiseer nie.”
Madelaine sê sy gaan heeltemal alleen deur, maar dat sy tog positief is. “Ons akkommodasie, verblyf, klere en selfs ons fietse word voorsien. Ek gaan alleen, maar omdat ek saam met so baie ander fietsryers van ander lande gaan wees, gaan ek ook nie heeltemal alleen wees nie. Ek sien baie uit na die klimmery in Switserland,” skerts sy.
Lees ook: Vyf verbrande, ontbinde liggame van ontvoerde gesin gevind



