Lize Blignaut, mamma van ‘n pragtige dogtertjie, vertel ‘n verhaal van die dag wat haar dogtertjie in die swembad geval het, blou geraak en later in die hospitaal opgeneem is, en dat sy hoop mense besef wonderwerke gebeur nog.
“In Desember verlede jaar ry ons, soos dit tradisie is, na Musina na vriende se plaas toe vir die Nuwe Jaar. Toe ons daar aankom, het ons net ons klere weggepak en die kinders se swemklere uitgehaal sodat hulle kon gaan swem.”
Lize vertel sy en Marzanne is direk na die swembad toe. “Die mans en ander werkers het toe die springkasteel gaan opslaan. Carmen hou nie van koue water nie en het net vinnig geswem voor sy op ‘n stoel by ons kom sit het.”
Lize sê Carmen was vir swemlesse tot die inperking aangebreek het. Sy sou in Januarie 2021 voortgaan met haar lesse.
Kort daarna het die mans geroep en gesê die springkasteel is reg en dat die kinders kon kom afgly. “Ons volwassenes het daar gestaan en kyk hoe die kinders op en af spring en gly.”
“Ek het foto’s geneem van die kinders terwyl hulle gespeel het en om 15:04 het ek nog ‘n foto van Carmen bo-op die springkasteel geneem. Ek het die foto vir my man gewys en nog gesê: ‘Hierdie dingetjie is net te oulik’.”
Kort na dié foto het Lize gou stoele by die vuurmaakplek neergesit en toe is sy kombuis toe om die kos en vleis te gaan wegpak. “Toe kom Tien en vra waar is Carmen. Ek het gesê ek weet nie, dat sy laas nog op die springkasteel was.”
Marzanne het dadelik na die swembad gehardloop en geskree dat PW haar moet help om Carmen, wat toe reeds bo-op die water gedryf het, uit die water te haal. “Sy was te swaar vir Marzanne om alleen uit te haal.”
“Dank die Vader hulle het MTN-fone gehad, want Vodacom se sein was baie sleg op die plaas.”
Marzanne het onmiddellik hulle huisdokter, Paul Vorster, gebel en gesê dat Carmen nie asemkry nie en dat hulle raad nodig het om te weet wat om te doen.
“Die oproep is om 15:13 gemaak. Nege minute, waarvoor ons nie rekenskap kan gee nie.”
Die dokter se raad aan Marzanne was om 60 hartmasserings te gee en twee keer in Carmen se mondjie te blaas. “Ons babalyfie was blou en leweloos. Daar was niks lewe nie, absoluut niks.”
Lize vertel Marzanne het die ander vier kinders by die huis ingevat, Tien het na die enigste plek op die plaas waar daar sein was gegaan en probeer hulp kry, en PW het met die hartmasserings begin. Lize vertel sy en PW het beurte gemaak terwyl die dokter kort-kort gebel het om te hoor hoe dit gaan. “Sy woorde sal ek nooit vergeet nie. ‘Maak nie saak wat nie, moenie ophou nie!'”
Terwyl Lize en PW by klein Carmen doenig was, het Marzanne speletjies met die ander kinders gespeel om hulle aandag af te trek. “PW het in ‘n stadium vir my gesê dat ek ook moet bel om te probeer om hulp gereël te kry.” Lize het gebel vir ‘n helikopter om uit te kom. Ná ‘n rukkie se oor en weer gebellery moes Lize by ‘n dame hoor dat dit twee tot twee en ‘n half uur sal neem om by hulle uit te kom.
“Ek het die foon neergesit en geweet al wat my babalyfie nou gaan red, is gebed. Ek het net daar op my knieë neergeval en begin bid, gesmeek en gepleit dat die Here ons dogtertjie asseblief moet spaar.”
Sy vertel hoe Tien by haar kom staan en haar styf vasgehou het. Marzanne, wat hulle deur die huis se venster gesien het, het in dié stadium gedink Carmen het dit nie gemaak nie.
Hulle het toe uiteindelik kontak gemaak met ‘n plaasbestuurder wie se ma ‘n bietjie meer mediese kennis as hulle gehad het. Hulle het omstreeks 16:15 by die plaasvoorman se huis gestop. “Die suster het ons ingelig dat Carmen begin stuipe kry. Ons het nie besef dis wat al langs die swembad begin gebeur het as gevolg van die suurstoftekort nie.”
“Ons het besluit om die kans te vat om solank Musina toe te ry en die ambulans langs die pad te kry om die tyd te verkort. Die pad het soos ‘n ewigheid gevoel. Ons het op elke bult gehoop om die ambulans se ligte te sien. Om net in die verte geen karre te sien nie, het ons moed in ons skoene laat sak.”
Lize vertel hulle het die ambulans om 16:40 gekry, waar hulle Carmen aan Dries, ‘n paramedikus wat nie aan diens was nie, maar gesê het hy sou help. oorgegee het. “Ek het saam in die ambulans geklim en by Musina se mediese sentrum het engele direk uit die hemel ons klein lyfie onmiddellik begin help.”
Lize vertel paramedici het Carmen op suurstof en monitors gesit. “Hulle wou so veel as moontlik inligting by ons hê, wat ons in dié stadium nie vir hulle kon gee nie. Ons het geen idee gehad van hoe lank sy in die swembad was, hoe die tydlyn verloop het ensovoorts nie. Hulle het haar sedeer en probeer om haar koors en stuipe onder beheer te kry.”
Een van die dokters het Lize gevra om langs Carmen te gaan sit en met haar te praat. “Om as mamma jou kind so te sien lê, laat jou so magteloos voel.”
Een van die dokters het toe vir Lize gesê dis ‘n goeie teken dat sy bewus is van sy teenwoordigheid om haar. “Elke keer as hy aan haar vat, het haar hartkloppie hoër geraak op die hartmonitor. Al die dokters het die hele tyd ons probeer gerusstel om te sê hulle weet ons dink hulle doen nie veel nie, maar dat hulle alles gedoen het wat hulle moontlik kon.”
“Al wat ons kon doen, was om te wag vir die helikopter wat op pad was. Daardie wag het gevoel soos ‘n ewigheid.”
Die dokter het Lize gevra of Carmen boeties of sussies het. Toe sy antwoord dat sy twee sussies het, het die dokter gesê dat hulle haar moet kom groet, want hulle het nie geweet wat die toekoms inhou nie.
“Marzanne het op pad na die hospitaal mooi met die kinders gepraat en hulle verduidelik wat aangaan. Tien het hulle by die motor gaan haal. Sy het aan hulle verduidelik dat Carmen op masjiene is, maar dat hulle nie moet skrik nie, want die masjiene gaan haar help gesond maak.”
Carmen se sussies het saam met hulle pappa ingekom. “Ek kon op daardie kindergesiggies sien hulle is bang en benoud,” vertel Lize. “Hulle het met haar begin praat en dadelik het die dokter met my oogkontak gemaak om te wys haar hartkloppie klim weer.
“Die oomblik toe die Netcare-helikopter se personeel daar ingestap het, was die eerste keer wat ek kon asemhaal. Alles het afgespeel soos in ‘n fliek. Daardie man met sy geel Covid-19-pak, wat ons intussen kon opspoor, Jan Burke, was so professioneel en het alles so mooi verduidelik. Hy het duidelik uiteengesit wat die volgende stap is en as dit nie werk nie, wat die volgende plan is.”
Lize sê sy was in twee geskeur toe sy moes hoor dat sy nié saam met haar dogtertjie in die helikopter kon vlieg nie. Medici het ‘n “port” in Carmen se been gemaak om só medisyne vir haar te gee. Sy is ook gesedeer.
Sy is om 20:15 per ambulans na die helikopter geneem, wat haar toe na die hospitaal in Pietersburg geneem het.
“Die pad Pietersburg toe het so vinnig verbygegaan. Mense van die gemeenskap het van wyd en syd gebel om hulp en ondersteuning aan te bied. Die Here het reeds geweet wat voorlê vir die pad. Kara, ons oudste dogtertjie, het heelpad gesê haar sussie is ‘n wonderwerk, sy gaan bly lewe.”
Intussen het Carmen se kleuterskooljuffrou, wat Lize beskryf as iemand met ‘n hart van goud, Carmen by die hospitaal gaan inwag.
“Die oomblik wat ons in die dorp inry, wag my twee skoonsussies reeds by ons huis dat ons die twee ander dogtertjies by hulle kon los. Ons is dadelik hospitaal toe.”
Lize vertel hoe behulpsaam die personeel van die eerste oomblik af was. “Binne tien minute was ons by ons baba. En daar wag ‘n engel van ‘n suster wat ons so mooi verduidelik het wat aangaan. Sy het ook gesê ons kan enige tyd vra as ons iets wil weet.”
“Daardie piep-piep van die masjiene speel gereeld nog in my kop.”
Kort daarna is Carmen vir breinskanderings geneem. Lize, wat kon saamstap, het buite gewag.
“Ek gaan staan teen die muur en my bene gee in. Die verpleegster wat saam met ons gestap het, kom haal my dadelik en help my tot by ‘n stoel om die hoek. Uiteindelik kom my kind se bedjie uit die kamer uit. Nou moet die longskanderings gedoen word. My kop wil mal word. Soveel gedagtes skiet deur mens se kop!”
Lize en Carmen is toe terug na Carmen se kamer. “Ek en Tien sit daar en wag tussen die masjiene se gepiep en so slaan die klok Nuwejaar. Ek weet dit net omdat al die personeel mekaar ‘n gelukkige Nuwejaar toewens.”
“Die verpleegsters gaan staan almal by ‘n baba se bedjie so skuins oorkant Carmen se kamer. Hulle begin sing. Dit voel soos die hemel. Ek weet vandag presies waar die beskrywing ‘engelekoor’ vandaan kom. Hulle begin almal kliphard bid. Almal saam en gelyk. Ewe skielik is daar hierdie heilige atmosfeer wat heers in die saal. Dis net te groot om dit vir iemand in woorde te kan beskryf.”
Lize vertel hoe die wag langs klein Carmen se bed soos ‘n ewigheid gevoel het. “Die volgende oomblik sien ek die vrou wat die skanderings gedoen het, inkom met ‘n koevert onder haar arm. Sy stap direk na ons toe en nog voor ons iets kon vra, sê sy Carmen het sinusinfeksie.”
“Nee, Mevrou. Daar is geen breinskade nie.”
“Ek bars in trane uit van dankbaarheid. Om 02:04 hoor ons ons baba het geen breinskade nie.”
Lize sê hulle is huis toe om te gaan rus. “Toe ek die volgende dag daar instap en daardie dikgeswelde lippies sê ‘Mamma optel’, het my hart gesmelt en dit was die kosbaarste woorde om te kon hoor.”
Carmen het geen beheer oor haar nekkie gehad nie. Later die middag, toe Tien vir Carmen gaan kuier het, het klein Carmen se bene nog soos jellie gevoel, sê Lize.
“Ek word wakker om 5:00 toe is die klein klits besig om van die bed af te klim, want sy het haar pappa gesoek. Daar loop sy toe self sonder hulp deur toe. Toe Pappa daar aankom, word hy ingewag deur ‘n bruinoog-dogtertjie wat die gang afhardloop na hom toe.”
So word klein Carmem deur genade en gebed ontslaan Satermiddag, ‘n gesonde dogterjie wat niks makeer nie.
“Wonderwerke gebeur, want ek het dit met my eie oë beleef. Om te weet daar is ‘n God wat smeekgebede verhoor as dit sy wil is. By God is niks onmoontlik nie. Ons harte is hierdie Kersfees ekstra dankbaar dat ons bruinoog dogtertjie gespaar is. Carmen Blignaut, die roeping op jou naam is groot. Jy, ons klein lyfie, gaan nog baie goeie werk vir die Here doen. Hy het jou op jou naam geroep, jy is Syne! “
Volg FiND iT hier op Facebook.



