Jonathan Ball Uitgewers publiseer Louis Botha: krygsman, generaal, staatsman geskryf deur Richard Steyn, die skrywer van Jan Smuts – Afrikaner sonder grense. Hierdie sagtebandboek beslaan 306 bladsye, 30 hoofstukke en verskeie kaarte en foto’s.
Winston Churchill het Louis Botha beskryf as een van die grootste geeste ter wêreld. Ek moet erken dat ek nie veel van hierdie soldaat en nasionale leier wat reeds ’n eeu gelede oorlede is, geweet het nie, buiten dat ek sy naam vaagweg kon onthou uit die geskiedenislesse wat ek nog op skool gekry het. Ek het dit goed gevind om hierdie leemte aan te spreek en was aangenaam verras deur sy merkwaardige lewensverhaal. Botha was onder meer die eerste premier van die Unie. “Saam met Jan Smuts het hy die lotsbepalende besluit geneem om sy jong land se lotgevalle aan dié van die Britse Ryk te koppel, nie uit dienstigheid soos sy kritici beweer nie, maar weens die noodsaak van versoening tussen Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners, as versekering teen vyandellike invalle en as ’n waarborg vir die ekonomiese opheffing wat ’n verbintenis met die Britse Ryk kon bied” (ix).
Die teks op die agterblad lui: Louis Botha was ’n briljante Boeregeneraal wie se taktiese vernuf en intuïtiewe aanslag op die front vir etlike oorwinnings oor die Britse magte gesorg het. Maar dit was sy enigmatiese karakter en vaste oortuiging om te hou by wat hy geglo het reg was, wat hom as ’n leier van die Boerevolk gevestig het. Richard Steyn gee op meesterlike wyse insae in die lewe van hierdie grootse Suid-Afrikaanse krygsman en staatsman. Hy beskryf verhelderend hoe Botha saam met sy hegte vriend, Jan Smuts, die vier Suid-Afrikaanse kolonies na Uniewording in 1910 gelei het. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was hy aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse magte se suksesvolle inval van Duits-Suidwes-Afrika, wat tekenend was van sy onwrikbare oortuiging dat ’n man daad by woord moet voeg. Tog is hy deur talle Afrikaners verkwalik vir sy steun aan Brittanje, en die Afrikaner-rebellie, waartydens hy teen voormalige makkers moes optree, het sy hart gebreek. Botha se groothartige en vrygewige omgang met mense – van Vereeniging to Versailes – het hom bo sy tydgenote laat uitstaan. Die boek weerstaan die versoeking om sy lewe deur moderne lense te evalueer en probeer eerder om die konteks van die politiek van sy tyd te verduidelik.
Ek het Louis Botha: krygsman, generaal, staatsman interessant gevind. Dit is boeiend geskryf en roep Botha en die gebeure rondom hom helder op. Mens vergeet skoon jy lees ’n boek wat geskiedkundig van aard is, want dit ontvou soos ’n storie wat jy nie wil neersit nie. Daarby herken mens die name van ander historiese figure wat help om hierdie skrywe in konteks te plaas. Ek beveel dit heelhartig aan vir enigiemand wat lief is vir geskiedenis of wat selfs net wyer wil lees oor die beginjare van die vorige eeu.
Kry jou kopie van Louis Botha: krygsman, generaal, staatsman hier.



