Jeanni: ‘Opvoedkunde vloei deur ons are’

Deel hierdie storie / Share this story

Jeanni Marx (29), onderwyseres by Laerskool Eureka, sê opvoedkunde vloei deur haar familie se are. Jeanni verhuis die week na Pretoria en gaan ’n baie groot leemte in die harte van kinders en onderwysers los.

Gebore in Kemptonpark, het sy in 2001 saam met haar familie na Kimberley verhuis. Jeanni het ’n tweelingsussie, Theani Groenewald, en die twee is dogters van die bekende kindersielkundige, Sandra Barkhuizen.

Sy het haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Diamantveld voltooi en is in April hierdie jaar getroud. Die paartjie het nog nie kinders nie.

“My oupa en tannie was skoolhoofde en daar is ’n aantal onderwysers in ons familie en so vloei daar ’n lyn van lief wees vir mense en ’n passie vir kinders. Van kleins af het ek en my tweelingsussie ‘juffrou- juffrou’ gespeel met ons poppe. Ek sou sê dat die opvoedkunde vloei maar deur ons are.”

Jeanni het aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en verhuis nou saam met haar man na Pretoria. Sy het vir sewe jaar by Laerskool Eureka skoolgegee.

“Ek is opgewonde oor die nuwe hoofstuk in ons lewe. ’n Wonderlike geleentheid het oor my en my man se pad gekom. Om myself met opvoeding en onderrig van kinders uit te leef, gaan steeds deel daarvan wees. Ek het nog gans te veel juffrou hier binne my om nou op te hou.”

Jeanni kom terug Kimberley toe

Sy sê ook Kimberley is nie nou in die verlede nie.

“Ek probeer altyd positief kyk na nuwe uitdagings en gelukkig is Kimberley nie iets van die verlede nie. My familie, skoonfamilie en natuurlik my tweelingsussie (my ander helfte) en haar man woon hier. Ek groet nie vir Kimberley finaal nie, ek  sal definitief dikwels terugstap op my ou paaie. Ralph Waldo Emerson sê dit so mooi: “Do not go where the path may lead, go instead where there is no path and leave a trail.”

Jeannie vertel sy geniet dit om te sien hoe elke kind verskillend ontwikkel.

“Ek dink die wonderlikste van ’n juffrou wees in gr.1 is om te sien hoe elke maatjie op verskeie vlakke ontwikkel en dit net in een jaar. Aan die begin van die jaar is hulle leë boksies en aan die einde van die jaar lees en skryf hulle en doen somme laat dit klap. Dit is so ‘n selfbevredigende werk! Vir elke maatjie is sy gr.1-juffrou die grootste rolmodel op aarde. Ek dink elke mamma het al gehoor: ‘Mamma, my juffrou het gesê… Ons as onderwysers moet altyd besef watter impak ons posisie en optrede in elke kind se lewe kan hê.”

Sy is ook baie lief vir draf, fietsry en ski.

“Solank dit in die natuur is, is ek op my gelukkigste. Soos almal my ken, is ek gebore met baie woorde (mal oor gesels). Ek hou van sosialiseer met vriende.”

“My ma is vir seker my rolmodel. As ek eendag net die helfte van ’n ma soos sy kan wees, dan het ek in my lewensdoel geslaag.”

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels hier.