Aangesien die nasionale Covid-10-bevelsraad Suid-Afrika op aangepaste vlak 1 van inperking behou, doen die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, ‘n beroep op verantwoordelike gedrag en sterker nakoming van Covid-19-voorkoming- en behandelingsprotokol gedurende die feesseisoen.
Die NCCC het besin oor die huidige Covid-19-situasie en beraadslaag oor die aanbevelings wat deur die departement van gesondheid ter tafel gelê is as deel van veiligheidsmaatreëls om ‘n moontlike oplewing in Covid-19-infeksies gedurende die feestyd te voorkom. Sodanige infeksies word geassosieer met allerlei sosiale byeenkomste soos partytjies en troues, wat superverspreider-geleenthede kan wees, wat ‘n groot risiko vir die oordrag van die virus inhou.
Die raad het die departement opdrag gegee om die stygende getalle Covid-19-infeksies, hospitalisasies, sterftesyfers en herstelkoerse, wat grootliks gedryf word deur die Omicron-variant, wat bydra tot die vierde golf in die land, noukeurig te monitor.
Volgens wetenskaplike studies versprei hierdie virus vinniger as in vorige golwe, maar die koers van hospitalisasies en sterftes bly relatief laag.
“Daarom is dit in ons hande om die huidige breuk in die wolke in ‘n blywende sonskyn te verander om ‘n veiliger en vreugdevolle Kersfees en voorspoedige Nuwejaarsvieringe te hê. Ons doen ‘n beroep op alle reisigers, veral diegene wat nie ingeënt is nie of gedeeltelik ingeënt, wat afkomstig is van gebiede wat as brandpunte verklaar is, om ingeënt te word voordat hulle in die pad val. Sodoende sal hulle hul families en vriende beskerm wat hulle sal besoek gedurende hierdie tydperk, wat verband hou met groot sosiale byeenkomste soos partytjies en troues. Hierdie geleenthede kan ‘superverspreider’-geleenthede wees, wat ‘n groot risiko van oordrag van die virus inhou”, sê dr. Phaahla in ‘n mediaverklaring.
“Deur ingeënt te word en alle veiligheidsmaatreëls te volg, sal dit nie net die verspreiding van die virus verminder nie, maar ook die druk van ons hardwerkende gesondheidsorgpersoneel verwyder wat onvermoeid gewerk het om ons veilig te hou.” Minister Phaahla voeg by dat die departement sal voortgaan om die situasie gedurende hierdie tydperk noukeurig te monitor in terme van daaglikse infeksiegevalle, hospitalisasies, sterfte- en herstelsyfers, en die nodige aanbevelings aan die nasionale coronavirus-bevelsraad sal maak in die beste belang van mense se lewens en lewensbestaan.
Die departement wat saam met die provinsies werk, sal verseker dat voldoende inentingsterreine beskikbaar bly, insluitend opwip-terreine by sommige openbare plekke soos winkelsentrums, openbare sportfasiliteite en by padblokkades. ‘n Beroep word ook op openbare vervoeroperateurs gedoen om te alle tye die nakoming van maskerdra, handreiniging en oop vensters af te dwing om voldoende ventilasie toe te laat.
Volg FiND iT hier op Facebook.




