Renaldo Schwarp (29), skrywer van die boek “Skeef”, TV-aanbieder en -vervaardiger en ook radio-omroeper, gesels met Bloemfontein Online Co. oor sy boek, sy lewe as ‘n gay persoon in Suid-Afrika en sy pad na roem.
Renaldo het in April 2021 na Bloemfontein verhuis. Hy vertel Bloemfontein-inwoners het die skuif van Pretoria so maklik gemaak. “Almal is uiters vriendelik en ek’s mal oor die algehele sin van gemeenskap wat Bloem het.”
Renaldo het aan Hoërskool Centurion in Pretoria gematrikuleer en het daarna by die Universiteit Stellenbosch gaan studeer.
Renaldo se film en boek “Skeef” het aan soveel mense ‘n bietjie perspektief gegee oor die onderwerp van gay-wees. “Ek was 17 jaar oud toe ek vir die eerste persoon vertel het ek is gay. Dit was n universiteitsvriendin. Sy het my ondersteun en ‘n veilige spasie vir my gebied, aangesien sy kon sien dat dit iets is waarmee ek geworstel het. Sy het my ook aangemoedig om my ouers te vertel.”
Om sy ouers van sy seksualiteit te vertel, was vir Renaldo sekerlik een van die grootste struikelblokke. “Dit was moeilik aan die begin en dis iets waaroor ons nie gesels het totdat die dokkie uitgekom het nie. My ouers was maar nog altyd my grootste ondersteuners, maar my seksualiteit was wel iets waarmee hulle gesukkel het. Die onderwerp is nou na die boek en dokkie-film nie meer so ongemaklik nie.”
Renaldo vertel na afloop van die aanvanklike dokkie “Skeef” het hy gesit en gewonder hoe hy die werk wat daarmee geskep is, kon voortsit. “Ek het aan die begin van 2020 ‘n idee gekry om ‘n boek oor LGBTQIA+-ervaringe te skryf. So toe die inperking begin het, het ek begin skryf en skaaf aan die boek, en in 2021, tot so voor publikasie in September, het ek en Lapa Uitgewers aan die manuskrip geskaaf.” Die boek het heel tydig vir Pride-maand uitgekom.
Renaldo het sy dramagraad in 2012 aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, waar hy gespesialiseer het in media (TV en radio). “Op kampusdae was ek ook heel doening by die kampus se radiostasie. My eerste radio-gig was by SMILE 90.4 FM in Kaapstad en daarna by Capetalk as aanbieder van my eie weeksaand geselsprogram. Tydens laasgenoemde het ek ook my debuut op TV in 2017 gemaak as aanbieder en vervaardiger van VIA TV se insetselprogram, GONS. In 2018 het ek terug na Pretoria verhuis om by Jacaranda FM aan te sluit as naweekomroeper en later daardie jaar het ek by die span op kykNET & Kie se aktualiteitsprogram, KLOP, as veldaanbieder aangesluit.”
Toe ons vir Renaldo vra waar sy belangstelling in soveel verskillende rigtings vandaan kom, lag hy en sê dat hy daarmee sukkel om stil te sit.
“Ek was maar nog altyd passievol oor stories vertel en mense, so die projekte het maar redelik natuurlik ontstaan, of dit nou op radio, TV, aanlyn of selfs skryf is. Mense en hulle stories staan maar sentraal in al die laasgenoemde en dis wat my hierna aantrek. Ek’s ook bly dat ek, veral in ons huidige medialandskap, my professionele portefeulje so wyd kon diversifiseer. Ek dink dis nogal belangrik vir mediamakers.“
Uit die lang lys van bekende sterre met wie Renaldo al kon gesels, noem hy Tannie Evita, Bonang Matheba, Nataniel en Claire Johnston onder die name wat vir hom uitstaan.
“En veerkragtigheid is die een ding wat in elkeen se storie uigestaan het. Dis sekerlik een van die wonderlikste eienskappe van ons as mens. Ek’s mal daaroor en ek dink dis ‘n eienskap wat nogal baie onderskat word. En beslis iets wat meer ‘gehighlight’ moet word en ook gevier moet word.”
Renaldo vertel vir die LGBTQIA+-gemeenskap in Suid-Afrika is die versoening tussen ons grondwet en die geleefde ervaring van persone wat deel is van die beweging die grootste uitdaging. “Daar is steeds te veel haatmisdade wat die gemeenskap affekteer. En dis iets wat dringend en op n praktiese manier aangespreek moet word.”
Renaldo het ook in November afgeskop met ‘n nuwe, opwindende vermaakprogram vir kykNET, wat vanuit Bloemfontein vervaardig word. “Hierdie en my radiowerk is vir eers top-prioriteit, maar ek voel daar is nog n boek wat binne my lê… Wanneer ek hom gaan aanpak, dit moet nog besluit word.”
Volg Bloemfontein Online Co. hier op Facebook.
Lees ook: Sonja Visser: ‘Sy het in soveel mense se harte ingekruip’



