Gemeenskap staan saam na Gideon ernstig seerkry in motorfietsongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

Antoinette Forster (26) vertel van die aand wat haar man, Gideon Forster (28), in ‘n ernstige motorfietsongeluk was en sy been en van sy tone gebreek het.

Gideo en Antoinette het twee kinders, Liam (5) en Carli (1).

“Op die aand van 21 November, skuins na 20:00, was my man in ‘n motorfietsongeluk in Kroonstad by die sirkel tussen Rooiskool en Johan Slabbert betrokke,” vertel Antoinette.

“Dit was donker en van die straatligte het nie gewerk nie. Die pad by die sirkel maak ‘n ‘dip’ wat hom toe van balans af gegooi het.” Gideon het die sirkel getref.

Antoinette vertel hulle was op pad huis toe ná hulle by ‘n restaurant was. Gideon en ‘n vriend het op hulle motorfietse gery en Antoinette was saam met hulle kinders in die motor. “Ek was skaars ‘n paar minute by die huis, toe ontvang ek die oproep dat my man in ‘n ongeluk was.”

Gideon is met ‘n ambulans na die Netcare Kroon-hospitaal geneem waar medici X-strale geneem het. Daar is vasgestel hy het ‘n fraktuur aan sy regterbobeen opgedoen wat dringend aandag nodig gehad het. Antoinette vertel Gideon was nog op hulle mediese fonds se wagperiode en hy moes dus die oggend van 22 November na Boitumelo-hospitaal oorgeplaas word.

By dié hospitaal het hulle weer plate geneem en die dokter aan diens kon help om sy been reg te trek sodat sy bloedvloei nie so belemmer was nie. Hy is die oggend weer na Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

Lees ook: Drie matrikulante sterf op pad na matriekvakansie

By dié hospitaal moes Gideon hoor dat die waglys daar baie lank is en hy tussen vier en ses weke sou moes wag voor hulle op hom kon opereer.

Omdat die fraktuur in Gideon se been dringend aandag nodig gehad het, het hulle begin om geld in te samel om hom na ‘n privaat hospitaal oor te plaas.

Natalie Nel (26) en Cherich Bredenkamp (26) het ‘n Facebook-ondersteuningsgroep gestig om geld te probeer insamel. Die motorfietsklub Ghost Riders van Kroonstad het ook dadelik hulp aangebied en gehelp geld insamel. Corcomm-sekuriteit het geld geskenk en ander besighede uitgedaag om ook te skenk. Antoinette vertel meeste skenkings was anoniem, maar van die besighede (waarvan sy bewus is) en organisasies wat skenkings gemaak het en hulp verleen het, was onder andere ACT Computers, Valtrac, HPA Onderdele, Goldco MIDAS, AJ Dieseldiens, Khans Groep, CMA Kroonstad & Round Table. Jo-Ann Botha, JC Botha wat saam met Gideon werk, se vrou het pannekoekverkope gehou om ook geld in te samel.

“Dit is onbeskryflik hoe mense van die gemeenskap hande gevat het en ons bygestaan het in die moeilike tyd. Skenkings is ontvang van so ver as Nieu-Seeland en Amerika!”

Teen Vrydag 26 November het hulle genoeg geld ingesamel om die deposito te kon betaal om Gideon te kon laat oorplaas na Bloemfontein MediClinic waar hy op Saterdag 27 November deur dr. J.F. van der Merwe geopereer is. “Tydens die operasie is daar vasgestel dat my man se heupbeen gekraak is, die regter femur gebreek is, vier tone aan sy regtervoet is gebreek en hy het sy kruisligament geskeur.”

Hy is op Maandag 29 November ontslaan. Hy sterk tans aan by die huis aan en het nog ‘n lang herstelpad wat voorlê.

“Ons wil net weereens al ons vriende, familie en die gemeenskap van Kroonstad bedank vir elkeen se bydrae, oproepe, en gebede. Dit het ons as gesin deur die moeilike tyd gedra.”

Volg FiND iT hier op Facebook.