Polisielid skiet sy vrou, haar vriend, toe homself

Deel hierdie storie / Share this story

Bileur Hoffman, ‘n polisielid van Springbok in die Noord-Kaap, het Saterdagoggend om 06:00 sy vrou, Carmen en ‘n vriend van haar geskiet voordat hy sy dienspistool op homself gerig en homself om die lewe gebring het.

Grace Langa, woordvoerder vir die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) het aan FiND iT bevestig die saak word tans deur Opod ondersoek.

Carmen (32) is volgens Langa in haar regterskouer, regterarm en in haar heup geskiet en is op die toneel dood verklaar.

Carmen se vriend, ‘n 24-jarige man, is in sy kop geskiet en veg tans vir sy lewe in ‘n hospitaal op Upington, sê Langa.

Volgens Langa is Hoffman se liggaam in sy motor op die Carolusberg-pad gevind.

Opod ondersoek tans die saak en wat tot die tragiese gebeurtenis kon lei.

Langa sê sy is bewus van gerugte wat die rondte doen dat die oorsaak van dié gebeure ‘n liefdesdriehoek is, maar dat Opod dit in dié stadium nie kan bevestig nie.

Lees ook: Douglas-ma wat van brug na haar dood spring, lyk in September nog gelukkig op foto’s