Gebedsgroep bid daagliks pligsgetrou vir SA, polisie en mekaar

Deel hierdie storie / Share this story

Die 49-jarige Maria Ramaksaghani is al vir twee jaar lank deel van ‘n gebedsgroep wat elke oggend getrou by die ingang van die buurt Langenhovenpark bid voor elkeen in sy eie rigting beweeg en die dag aanpak.

Maria vertel sy het in 2019 in Langenhovenpark begin werk en moet soggens van ‘n busdiens gebruik maak om by die werk te kom. “Ag, aanvanklik het ons in die bus op pad werk toe gesing en iemand sou uit die Bybel uit preek. Toe begin ons om wanneer die bus gestop het en ons uitgeklim het, weer bid voor ons almal werk toe gaan.”

Inwoners van dié buurt en ook die res van Bloemfontein het die groepie al baie maal gewaar en bewonder die pligsgetrouheid waarmee die groepie elke dag bid.

Maria vertel hulle bid maar oor alles. “Ons bid vir enigiets. Ons bid vir Suid-Afrika, vir die polisiediens, vir ons land, en vir mekaar. Dit beteken vir my so baie om deel te kan wees van die groepie.”

Maria vertel dat sy voel dié gebedsgroep ‘n werklike verskil in haar lewe gemaak het. “Dit voel soms vir my of sommige van my probleme net opgelos word wanneer ek daaroor bid. As ek enige bekommernisse oor my situasie by die huis, my kinders of by die werk het, bid ek daaroor. Dan raak alles sommer beter.”

Maria sê die groepie was aanvanklik groter, maar weens Covid-19 en omstandighede moes baie lede van die groep op ander plekke gaan werk of het hulle werk verloor. “Ons is op die oomblik so sewe of agt mense wat saam bid.”

“As ons net bid, is alles moontlik. Bid vir mekaar.”

Volg FiND iT hier op Facebook.

Lees ook: Eclair-roompoffertjies