Herci, die trekker baas

Deel hierdie storie / Share this story

Herci van Huffel (sy oupa se name) kom van ’n klein dorpie in die Vrystaat, Luckoff af. Hy is tans woonagtig op Hopetown, Noord-Kaap, waar hy as ’n dieselwerktuigkundige by Ovk Meganisasie werk.

“Ek is al ses jaar lank getroud met die mooiste vrou in die wêreld, wat my rots is. Ek is maar ’n plat op die aarde tipe ou wat altyd iets sal soek om by die huis te doen. Van Boer-Boer speel op die rekenaar tot avontuurritte op die motorfiets saam met my vrou. Ek hou ook van die natuur en om mooi goed vir my vrou te maak.”

Die dag toe Massey Ferguson hom gekontak het, het een van die grootste, beste oomblikke in sy lewe gebeur.

Herci is deel van ses werktuigkundiges wat gekies is om deel te neem aan Massey Ferguson se eerste Suid-Afrikaanse realiteitsprogram, MF Master Mechanics. Daar is drie spanne wat weekliks hulle kennis en tegnieke moet ten toon stel en die wenner sal ’n kontantprys van R100 000 ontvang.

“Ek het ’n passie om trekkers reg te maak en het hard gewerk om te kom waar ek vandag is. Ek dink Massey het dit en my potensiaal raakgesien en my daarom gekies om deel te wees van die kompetisie.  Dit is vir my ’n lekker uitdaging en ’n groot eer.”

Herci se liefde vir trekkers het begin toe hy die eerste keer ’n rooi trekker gesien het en vandaar af wou hy net met trekkers werk, boer en hulle regmaak. Hy wil oor vyf jaar nog steeds so passievol wees in sy werk en hy streef daarna om ’n topkenner op hierdie gebied te word.

“My inspirasie is my Bybel. Dit is my daaglikse handleiding vir die moets en moenies in my lewe en my steunpilaar vir die rots wat ek besig is om vir myself op te bou. Sonder God sou ek nie so nederig kon wees nie. Dit is my doelwit, om elke dag op my knieë te bly en elke taak wat ek aanpak, suksesvol te kan afhandel.”

Herci se raad aan ander werktuigkundiges met net sulke groot drome soos hy is doodeenvoudig – “Werk hard en wees trots op wat jy doen en doen alles met trots.”

Volg Kimberley Online Co. op Facebook hier.

LEES OOK: Cyril Ramaphosa: Mans moet eed aflê om nie te verkrag, leed aan te doen