Solidariteit het vandag tydens ʼn mediakonferensie ʼn nuwe beskermde fluitjieblaasportaal bekendgestel met die doel om werknemers te bemagtig om korrupsie by Eskom bloot te lê.
Volgens Solidariteit is die meeste werknemers by Eskom goeie mense wat hard werk, maar ʼn kultuur van plundering en korrupsie maak dit vir hulle onmoontlik om hulle werk doeltreffend te doen.
“Korrupsie in Eskom is geïnstitusionaliseer. Interne korrupsienetwerke steel ons gewone belastingbetalers se krag. Daar is ʼn bendenetwerk in Eskom wat hulself verryk terwyl gewone Suid-Afrikaners in die donker sit,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Ons is bewus van werknemers wat van hierdie wanpraktyke weet. Ons weet ook dat daar goeie mense is wat nie kan uitpraat nie, juis weens die geïnstitusionaliseerde aard van die korrupsie. Solidariteit het besluit om ʼn veilige platform te skep vir goeie mense om uit te praat. Solidariteit sal goeie mense wat wil uitpraat, lei en beskerm. Ons, die meerderheid van Eskom-werknemers en Suid-Afrikaners, moet opstaan teen die minderheid wat plunder. Ons is moeg vir die plunderaars en moet hulle terugdruk.”
Solidariteit stel dat hy die waghond sal wees sodat daar teen dié wat plunder, opgetree word deur werkgewers en sodat hulle vervolg word. Hoewel hierdie platform geloods word met ʼn spesifieke fokus op Eskom, is dit egter ook ʼn platform waar enige iemand by enige staatsonderneming en selfs private ondernemings die fluitjie teen korrupsie kan blaas.
“Die platform gaan ʼn groot rolspeler word in goeie mense se stryd teen plunderaars. Ons wil die korrupsiesuurstofpype toemaak. Ons vertrou dat ons die kultuur sal kan verander,” verduidelik Hermann.
Solidariteit sal op gereelde basis verslae oor tendense van korrupsie wat aangemeld is, aan die publiek bekend maak sonder om fluitjieblasers bloot te stel.
“Daar is niks so gevaarlik soos goeie mense wat stilbly nie. Ons mag nie toelaat dat plundering genormaliseer word nie. Ons mag ook nie sê dit help in elk geval nie om plundering aan te meld nie. Die oomblik wat ons dit doen, het ons oorgegee, tot groot vreugde van die boewe. Plunderaars moet hoor: julle is nie meer beskerm nie. Goeie mense gaan die fluitjie blaas. Ons wil julle in oranje pakke sien,” sluit Hermann af.
*PRESS RELEASE
VolgFiND iT op Facebook hier.



