Alvin Kruger (27), wat ’n OTM probeer opblaas het, is tot 15 jaar direkte tronkstraf op aanklagte van besigheidsinbraak en opsetlike saakbeskadiging gevonnis. Kruger is op Dinsdag 30 November 2021 in die De Aar-streekhof gevonnis.
OTM opgeblaas
Kruger is in Maart 2021 deur die Noupoort-SAPD in hegtenis geneem terwyl hy besig was om plofstof in ’n Standardbank-OTM te laai. Die saak is na die Kimberley Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaad-ondersoekspan verwys vir verdere ondersoek wat uitgeloop het op die skuldigbevinding en vonnis van Kruger.
Kruger het ’n reeks hofverskynings gemaak waarin hy skuldig gepleit het. Hy is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis vir poging tot sake-inbraak en vyftien jaar gevangenisstraf vir opsetlike saakbeskadiging. Beide vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.



