Spoorloos verdwyn: Twee jaar sonder Morné de Beer

Deel hierdie storie / Share this story

PRETORIA. – Morné de Beer (33) het in Junie 2019 spoorloos verdwyn en word sedertdien vermis. Dit is sy ma se derde Kersfees sonder hom.

Verdwyn

Marinda Mans, De Beer se ma, het aan FiND iT gesê sy het in die stadium van sy verdwyning in Ballito gewerk en dat hy haar soontoe help trek het. Hy het op die plot op Kameeldrift agtergebly terwyl ek in Ballito was.”

Sak en pak

Sy sê sy het hom in September 2019 laat weet sy is terug en wou weet waar hy is, maar sy het geen antwoord ontvang nie. “Bure wat ook hier woon, het my ingelig dat hy sak en pak weg is en dat iemand in ’n wit bakkie hom kom haal het. Die laaste keer wat ek hom gesien het, was in Junie 2019.

LEES OOK: Panayiotou-moordsaak: Laaste beskuldigde gevonnis

Sy laaste boodskap

“Ek het orals op Facebook begin rondvra of enigiemand hom dalk gesien het. Ek het vriende wie se nommers ek gehad het gekontak, maar niemand weet enigiets nie. Hy het hierdie jaar op 31 Januarie 2021 vir my ’n boodskap oor Facebook Messenger gestuur en gesê ek moet hom uitlos en dat ek my keuse gemaak het.”

Ontsteld

Sy sê sy vermoed hy is ontsteld oor haar. “Ek het in 2019 weer getrou en Morné was nie tevrede daarmee nie. My man het kanker gekry en is in Januarie 2021 oorlede.”

Bekommernis

Mans verduidelik verder dat sy net wil weet hy leef nog en dat hy okay is. “Ek het sedert Januarie, ná sy boodskap, nog nooit weer iets van hom gehoor nie. Ek het hom in Junie 2021 as vermis by die SAPD gerapporteer. Ek is rasend van bekommernis. Geen mens kan net so verdwyn nie.

Leef hy nog?

“Ek weet nie lewe hy meer nie. Party dae kry ek ’n gevoel dat hy nie meer lewe nie, maar ek kan nie vir seker weet nie. Hy het geen kontak met sy vriende nie en hulle weet ook glad nie waar hy is nie. Ek het gerugte gehoor dat hy in Polokwane of in die Wildernis is, maar weet nie hoe waar dit is nie. Ek weet ook nie wie die persoon met die wit bakkie is nie.”

Sy sê sy huil elke dag oor haar seun en wil net closure hê.

Inligting

Mans vra dat indien enigiemand inligting het of haar seun gewaar, hulle haar by 084 840 2977 sal kontak.

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels in Afrikaans hier.

Foto: Die pamflet wat op Facebook gedeel is.