President Ramaphosa het Sondagaand aan Suid-Afrikaners gesê die identifisering van die nuwe Covid-19-variant in Suid-Afrika is aan die land se wetenskaplikes te danke.
“Die vroeë identifisering van die variant en die navorsing wat ons reeds daaroor kon doen, stel ons in staat om daarop te reageer.”
Ramaphosa sê die Omikron-variant het meer mutasies as al die ander variante. Dié variant is anders as die ander variante en nie direk aan hulle verbind nie. Die variant wat aanvanklik in Gauteng kop uitgesteek het, is nou besig om in ander provinsies te verskyn. Volgens hom gaan navorsing nou voort om verdere inligting oor die variant te bekom.
Pres. Ramaphosa sê Suid-Afrikaners kan verwag om in die volgende paar weke die vierde vlaag van die virus te betree.
“Wetenskaplikes het ons gewaarsku teen die vierde vlaag en ook nuwe variante van die virus.”
Verder het pres. Ramaphosa oor die belangrikheid van die Covid-19-inenting gepraat en Suid-Afrikaners gevra om hulle vriende en familie ook te vra om hulle te laat inent. “Dis nou die tyd vir ons om ingeënt te word.”
Pres. Ramaphosa het gesê die regering vergader met verskeie partye oor mandate vir die Covid-19-inenting. Dit beteken dat inenting ‘n vereiste vir sekere aktiwiteite en toegang tot sekere plekke gemaak kan word.
President Ramaphosa het beklemtoon dat inenting saam met die dra van maskers, goeie ventilasie in geboue waar moet vergader word, en om veral binneshuise vergaderings te vermy, die wapens is wat tot ons tot ons beskikking het in die geveg teen die koronavirus.



