Adrian en Sonica se karategradering

Deel hierdie storie / Share this story

Adrian de Roubaix (8), ‘n leerling by Laerskool Jim Fouché, het onlangs sy mamma vreeslik trots gemaak by sy karate-gradering.

Juanita de Roubaix, Adrian se ma, vertel watter ongelooflike impak Rohan Verwey, Adrian se afrigter, op Adrian se lewe het sedert hy by hom begin karateklasse neem het. Adrian se sussie, Sonica (6) neem ook by Rohan karate.

Die RNBA-klub waar Rohan afrig, is met Martial Arts SA geaffilieer en kinders van so jonk as drie jaar kan die klasse bywoon.

“Die klasse help die kinders so baie, op ‘n emosionele manier ook. Ek het my kind by sy ou skool soms gaan haal en dan moes ek hoor dat hy geboelie is en selfs met klippe en stokke gegooi is. Maar vandat hy dié klasse neem, het hy regtig begin opstaan vir homself,” sê Juanita. “Hy het nou al die houding aangeleer dat hy nie eers meer vir die boelies luister nie!”

By dié klasse leer kinders die basiese elemente van selfverdediging en Juanita sê dis fantasties om die verandering in die kinders raak te sien.

Juanita vertel hoe sy hoendervleis kry by die graderings. “Ná elke gradering lê die kinders ‘n eed af dat hulle goeie mense sal wees en liefde vir ander sal wys. ‘n Mens kry sommer hoendervleis as jy daarna luister!”

Juanita sê as sy by die buiteskoolaktiwiteite waar haar kinders deelneem, hoor dat die kinders “nie saamwerk nie”, sê sy sommer reguit dat hulle nie reg met die kinders werk nie. “Rohan pas aan by elke kind. Hy hanteer elkeen verskillend, afhangend van hoe hulle as mense is.”

Adrian het by die laaste gradering sy rooi belt gekry.