Polisievrou versorg babakatjies: ‘Dis deel van my bestaan’

Deel hierdie storie / Share this story

Die 42-jarige polisievrou van Bloemfontein, Tanya Badenhorst, het in vele mense se harte ingekruip omdat sy gereeld babakatjies red, inneem en versorg totdat hulle na hulle nuwe huise toe kan gaan.

Tanya het twee kinders van haar eie, ‘n seun en ‘n dogter, van onderskeidelik 10 en 17 jaar oud.

Sy vertel die liefde wat sy vir diere het, is deel van haar hele bestaan. “As klein dogtertjie was ek altyd deur katte omring. Vet katte, maer katte, bont katte, almal was vir my ewe mooi! My ma het altyd gesê ‘n kat kies jou, en nie andersom nie. En so was dit ook – oral waar ek gegaan het, het katte my gekies.”

Tanya het in 2013 van die provinsiale polisiekantoor na die onluste-eenheid in Oos-Einde oorgeskuif.

“Hier was ‘n oom Piet wat die wilde katte hier gevoer het. Hy het elke dag vir hulle ‘n boks vol kos uitgesit en van hulle was so mak dat ‘n mens aan hulle kon raak. Oom Piet het toe afgetree en ek het besluit om in sy voetspore te volg en die eenheid se katkolonie te versorg. In ‘n stadium was daar 23 katkinders!”

Tanya vertel hoe elkeen van die katte name gekry het. “Ek het ook twee kathuisies buite my kantoorvenster geplaas wat oor die jare skuiling vir honderde katjies gebied het. Ek het toe registreer as ‘n Feral Caretaker.” Tanya sê sy het baie hulp ontvang met steriliasies wat die wilde katkolonie in Oos-Einde help verminder het. “Die natuur het ook sy eie manier om populasies se getalle te beperk.”

“Min mense weet hoe dit voel om ‘n gekolde, maer kat weer vet te maak of ‘n eens mak kat wat deur ons mensdom gefaal is na twee jaar weer mak te kry en te leer dat aanraking nie seer maak nie.”

“Ek het een. Haar naam is Fifa. Iewers moes iemand haar net langs die pad gelos het, ook seker gedink dat ‘n kat vir homself kan sorg. ‘n Mens stel jouself bloot aan soveel seer, soveel trane, maar môre voer jy weer. En wanneer jy gister se mammakat se lyfie van die teerpad moet optel nadat n jaagduiwel haar raakgery het en nie eers omgekyk het om te kyk of sy miskien nog lewe nie, soek jy vir ure lank na die lyfies wat jy weet daar moet wees.”

Die polisievrou vertel hoe sy al mond-tot-mond asemhaling vir siek babakatjies moes gee en hoe sy alles in haar vermoë doen om dié klein lyfies te laat oorleef.

“Ek het hulle gehelp waar dit nodig was, ek het hulle geleer dat mensekinders net soos diere kan liefhê. Ek leer hulle dat ander wat net soos hulle lyk, maar nie noodwendig hulle mammas, boeties of sussies is nie, ook kan saamspeel sonder om seer te maak.”

Tanya sê sy wonder soms waar haar hulp vandaan sal kom en waar sy geld gaan kry om die katjies te kan versorg, maar sodra sy nie meer weet watter kant toe nie, stap daar engele oor haar pad wat voorsien, waarvoor sy baie dankbaar is.

Tanya sê sy werk saam met Bloemfontein Kitten Rescue wat haar help om die regte besluite te neem.

“As ek as ‘foster-mamma’ vir enigiemand kan raad gee, is dit om vas te staan in dit wat jy glo. As die stemmetjie op jou skouer vir jou iets wil vertel…luister. Leer jou kinders om diere met respek te behandel, elke dag van hulle lewe. Sê altyd altyd dankie, al is dit al wat jy kan gee vir iemand wat altyd bereid is om jou by te staan. Byt vas, al voel dit soms jou bene wil inmekaarsak terwyl trane warm in jou keel gaan vassit.”

Volg FiND iT hier op Facebook.

Lees ook: Matriekleerling laat koppe draai met unieke ‘rokpak’ by afskeid