“‘n Koebaailiedjie aan ‘n stil vegter” Dis hoe Steve Hofmeyr, jarelange vriend en mede-sanger, sy liedjie wat hy vir Jordaan opgeneem het, beskryf.
Jordaan (50) het 17 November sy stryd na ‘n jaar teen leukemie verloor.
“Ek het ‘n huldigingslied vir Theuns geskryf. En toe delete. En toe opgeneem. En toe weer delete. Toe weer oorweeg. Gewonder of dit van pas is. Maar musiek is maar die taal wat ek en hy gepraat het. Ek dink hy sou dié verstaan. Ek gaan nog so bietjie daaroor dink. Dalk het mens eers afstand en tyd nodig. Dank aan Paulo en Danny wat met soveel respek gehelp het. Ons lag en huil lê sommer vlak naasmekaar. Groot dank aan Coleske Artists wat die hele aangeleentheid met waardigheid hanteer,” het Hofmeyr op sy Facebook-blad geskryf.
‘n Huldigingsdiens word vandag vir die sanger in Moreletapark in Pretoria gehou.
Steve het Donderdag op sy Facebook-blad gesê die koebaailiedjie, Sing dan in die hemele, sal direk na die diens vrygestel word en dat hy nie geld vir die koebaailiedjie sal aanvaar nie.
“Dis my, ons, koebaai-sê aan ‘n stil vegter in ons musiekfamilie. Sy pyn en krag het my diep geraak, veral teen die einde. Sy woorde sal vir altyd by my spook.”
Jordaan se huldigingsdiens sal om 11:00 regstreeks op sy Facebook-blad sowel as Afrikaans is Groot se YouTube-kanaal uitgesaai word.





