Marinette Sparks van Brackenfell in Kaapstad het vier dae gelede met ‘n baie oulike inisiatief begin om elke dag, tot die 24ste Desember, ‘n item uit haar koskas te haal en in ‘n bederfboks te pak om dan vir Kersfees vir iemand te gee wat dit nodig het.
“Hierdie jaar is die eerste keer wat ek dit doen. Ek het die idee by ‘n vriendin van my gekry wat dit ook hierdie jaar vir die eerste maal probeer. Dis ‘n baie oulike inisiatief en dit kan iemand se Kersfees sommer opkikker!”
Sparks het tot dusver rys, ‘n bottel aanmaakkoeldrank, pap en ‘n blikkie tamatie-en-uiesmoor in haar boks. “Ag, meeste van ons het mos maar ‘n ietsie ekstra in ons koskaste. As jy nou iemand spesifiek het vir wie jy jou boksie opmaak, kan jy altyd bederfies soos ‘n handeroom of iets ook insit.”
Sparks sê sy het nog nie ‘n idee vir wie sy haar bederfboks gaan gee nie, maar dat sy dit graag vir iemand wil gee wat dit regtig nodig het en iemand wat ook nie sal skroom om in hulle armoede weer vir ander te gee wat dit nodig het nie.
Sy sê ook dat dit wonderlik is as die idee by ‘n paar mense kan posvat en hulle dit óók die feestyd wil doen.
FiND iT wil jou uitdaag om vanjaar óók ‘n bederfboks te pak en iemand se Kersfees spesiaal te maak.
Volg FiND iT hier op Facebook.



