DURBAN. – ’n Ses dae oue babaseuntjie is hier gesteel, pas ná die ma en die baba die hospitaal verlaat het.
Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê die voorval het na bewering op 22 November 2021 om 14:00 plaasgevind ná hulle die King Edward-hospitaal verlaat het.
Bevriend
“Terwyl die ma vir ’n taxi gewag het, is sy deur ’n onbekende vrou genader wat met haar aan die gesels geraak het. Die vrou, vermoedelik in haar dertigs, het aangebied om kruideniersware en klere vir die kind te koop na sy verneem het dat die ma werkloos is.”
Gwala sê die klaer en die onbekende vrou het in ‘n taxi, na Dr. Pixeley Kasemestraat, geklim sodat die vrou klere vir die baba kon koop.
LEES OOK: ‘Tradisionele geneser’ vas vir verkragting
Babaseuntjie verdwyn
“Hulle is na ‘n winkel toe en die onbekende vrou het die ma kontant gegee om iets vir die babaseuntjie te koop. Die vrou het vir die baba se ma gesê om die baba by haar te los terwyl sy die nodige items koop. Die ma het haar baba by die vrou, wat buite die winkel gestaan het, gelos. Na ‘n paar minute het die ma van die baba van die winkel af teruggekeer en ontdek dat die vrou saam met die baba, verdwyn het”, verduidelik Gwala.
’n Saak van ontvoering is geopen.
Inligting
Enigiemand met inligting wat die speurders van Durban-Sentraal in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om vir sers. Zulu, die ondersoekbeampte, by 082 750 8947 of 031 325 4079 te kontak. Crime Stop kan ook gekontak word by 08600 10111.
Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels in Afrikaans hier.



