Shaun (23): ‘Hy het diep spore in soveel mense se harte getrap’

Deel hierdie storie / Share this story

Die 23-jarige Shaun Jamneck is Maandagoggend tragies in ‘n motorongeluk oorlede. Shaun was ‘n student aan die Universiteit van die Vrystaat en was besig met sy LLB-graad.

Sy stiefma, Audrey, en sy pa, Hendrik, was twee motors voor Shaun toe die ongeluk vroegoggend plaasgevind het. Hulle het die ongeluk sien gebeur.

“Hy het Maandag ‘n pos aanvaar by ‘n groot prokureursfirma,” sê Audrey hartseer. “Hy sou as klerk daar begin werk het terwyl hy sy studies voltooi het. Hy wou graag ‘n litigasieprokureur geword het.”

‘n Motor het na bewering oor ‘n rooi verkeerslig gejaag en in Shaun se motor vasgery.

Hendrik vertel wat hy altyd van sy seun sal onthou. “Hy was só ‘n vriendelike, opregte, reguit mens. Hy het diep spore in baie mense se harte getrap. Hy het ‘n ongelooflike impak op soveel mense se lewens gehad.”

Hendrik sê hy en sy seun het nog altyd ‘n baie goeie verhouding gehad. “Elke dag saam met my kind was ‘n plesier. Ons het in die laaste twee jaar begin saam jag en saam gholf gespeel. Ek sal die laaste keer wat ons saam gholf gespeel het, altyd onthou.”

Audrey vertel wat vir haar baie spesiaal was van Shaun, is dat hy haar dadelik in sy lewe aanvaar het. “Hy het my gevat net soos ek is en deel gemaak van sy lewe. Hy was maar net so. Hy het niemand ooit geoordeel nie.”

Audrey vertel ‘n staaltjie wat vir hulle goeie herinneringe gee. “Ons was nou die winter op my swaer se plaas wat ‘n baie spesiale herinnering vir ons is. Ons het geskiet en my swaer het die hele tyd misgeskiet. Tipies Shaun, vra hy toe of hy maar mag lag!”

Shaun het vir soveel mense so baie beteken.

Nolene Venter Jamneck, Shaun se ma, deel ‘n briefie aan Shaun.

Shaun… Dit voel nog so onwerklik. My hart is stukkend en ek verstaan nie. Jy was vir baie mense soos ‘n seun in hul huise, soos ‘n broer. Jou lag en stout gesig en grappies het baie mense se dag gemaak. Jou dosente en mede-studente en oud-skoliere praat met lof van jou. Jy laat ‘n groot leemte. Ek gaan jou bitter baie mis en is oneindig lief vir jou. Moeder

Shaun se begrafnis sal môremiddag om 14:00 vanuit die Pellissier NG-kerk gehou word.

Volg Bloemfontein Online Co. hier op Facebook.

Lees ook: ‘My geloof dra my hierdeur’