Ons gesels met Leon Oosthuizen, bedryfshoof van die Langenhoven-mark (ook bekend as die Boeremark) in Bloemfontein.
Leon, wat al vir 20 jaar ‘n Bloemfonteiner is, is ook al vir 20 jaar ‘n gereelde koper by die mark. Hy is nou al vir ‘n dekade betrokke by die bestuur van die mark tot hy bedryfshoof geraak het.
Hy vertel ons ‘n bietjie van dié mark se geskiedenis.
“Die mark voer sy bestaan terug na ‘n mark wat ongeveer 30 jaar gelede by De Brug-stasie begin is. ‘n Klompie boere het een maal per maand hulle voorrade daarheen geneem en dan het daar ‘n spesiale trein geloop na De Brug-stasie waar dit vir ‘n tyd lank gestaan het en die mense hul vars produkte gekoop het, voordat die trein weer teruggekeer het na Bloemfontein.”
Leon vertel gou is daar besef dat daar ‘n geleentheid bestaan vir so ‘n plaasmark in Bloemfontein en op 9 Januarie 1993 begin die Boeremark op die terrein waar dit vandag steeds is. Soos die uitstallers toeneem, is daar mettertyd besef dat dit lank nie net meer plaasprodukte is wat daar verkoop word nie, en is die naam verander na Langenhoven-mark/Market.

Die mark, wat intussen báie gewild geraak het onder Bloemfonteiners of sommer kuiergaste in Bloemfontein, vind elke Saterdag plaas. Baie besoekers kuier weekliks saam by die mark waar daar allerlei dinge verkoop word.
Die enigste Saterdag wat daar nié ‘n mark is nie, is wanneer Kersfees op ‘n naweek val. “Met ander woorde, ‘once in a blue moon’,” sê Leon.
“Ons is baie dankbaar vir almal wat ons ondersteun,” sê Leon. “Min markte kry dit reg om reeds so lank suksesvol te bestaan. Deel van ons wenresep is sekerlik die lae koste van stalletjies. Vir ‘n daguitstaller is dit slegs R130 per dag en vir persone wat vir ‘n jaar bespreek, werk dit uit op ongeveer R40 per Saterdag. En ja, daar is nog stalletjies beskikbaar vir mense wat belangstel!”

Oor dit wat oor die algemeen by die mark uitgestal word, sê Leon: “Ons stel min beperkings op die produkte wat uitgestal mag word, maar daar is enkele regulasies, veral rondom voedselprodukte, wat ons streng toepas.”
Leon sê as jy egter oor iets wonder, het die mark ‘n kantoor, die houthuisie in die middel van die mark, met vriendelike personeel wat jou graag sal help.
Leon vertel die mark is vir baie van die uitstallers hulle brood en botter en dat hulle absoluut afhanklik is van die weeklikse inkomste. “Sommige uitstallers kom stal Saterdae uit vir ‘n ekstra inkomste om te betaal vir dinge soos kinders se studiegelde of ‘n lekker vakansie.”
Die mark het ‘n groot speelarea vir kinders, waar hulle kan baljaar op die glybane, ponies en treintjie of selfs op die donkiekar kan ry. Leon sê ook dat daar dalk binnekort ‘n verrassing is as dit kom by die kinders se speelplek.
Die Kersaandmark is jaarliks ‘n groot geleentheid vir baie Bloemfonteiners. Leon vertel al die bekende uitstallers is dan daar en dat uitstallers van regoor die land ook hulle unieke produkte ten toon stel.
Onthou, hier in die tyd wat meneer Covid-19 ons bekruip, is die opelugmark waarskynlik een van die veiligste plekke om jou inkopies te kom doen. By dié mark kan jy jou vleis, groente en vrugte koop, lekker wegneemetes kry en dan sal jy nog baie items teen billike pryse kry wat jy nodig het vir jou tuin, swembad, huis, om aan te trek… die lysie het nie einde nie. Daar is selfs toiletpapier, as jy dink jy het dit nodig vir die vierde vlaag. Met byna 400 gereelde uitstallers is die verskeidenheid geweldig groot.
Leon sê die mark is ‘n veilige ruimte vir enigeen en almal is welkom om dit te kom geniet. “Onthou net – GEEN MASKER – GEEN TOEGANG.”
Gaan maak gerus dié week ‘n draai by die gewilde mark.




