Ricardo Smith vertel van die aaklige aand op 28 April 2010 toe hy onskuldig in die tronk gegooi nadat hy 20 jaar tronkstraf gekry het vir iets wat hy nie gedoen het nie.
Smith was dié aand in April 2010 by ‘n kuierplek en het alkohol ingeneem. “Ek het besluit om vr my iets te gaan kry wat my kan nugter maak. Ek het na ‘n man se huis toe gestap en aan sy voordeur gaan klop,” vertel Smith. “Toe hy nie antwoord nie, het ek na sy kamervenster geloop en daar gaan klop. Voor ek my weer kom kry, was ‘n sekuriteitswag by my en wou hy weet wat ek daar doen.”
Smith vertel hoe hy die situasie aan die sekuriteitswag probeer verduidelik het, maar dié wou nie hoor nie en het die polisie geskakel. Smith sê die sekuriteitswag het hom aangerand tot die polisie daar opgedaag het.
“Toe die polisie daar aankom, het ek vir hulle gesê dat ek ‘n saak van aanranding teen die sekuriteitswag wou maak, maar hulle het gesê dat ek dit in die hof kan doen.”
Smith is daardie aand in hegtenis geneem en was vir ‘n rukkie in die aanhoudingselle tot sy saak voorgekom het. Hy het ook intussen verneem dat die sekuriteitswag ‘n aanrandingsaak teen hóm gemaak het.
Smith het ook ‘n vorige saak teen hom gehad, maar die saak is uitgegooi omdat daar te min bewyse teen hom was.
“Ek is toe skuldig bevind aan aanranding en huisbraak. Ek onthou hoe ek vir die regter geskree het: ‘Hierdie is NIE regverdig nie!'”
Smith is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis en het om appèl aansoek gedoen. Vier jaar het verbygegaan wat Smith in die tronk deur hel was voordat hy onskuldig bevind is.
“Toe ek daardie oranje oorpak aantrek, het die realiteit by my ingesink. Ek het net daar en dan vir myself belowe ek gaan aanhou baklei tot ek onskuldig bevind is.”
“Die vier jaar in die tronk was nie maklik nie. ‘n Mens moet geld hê as jy daar wil oorleef. Ek het dit nie gehad nie. Ek het ook nie besoekers gehad soos baie van die ander gevangenes nie. My ma was my enigste familie en sy is in 2006 oorlede. Dit het my tyd in die tronk moeilik gemaak.”
Smith is intussen vrygelaat nadat hy vrygespreek is. Hy sê hy sukkel om nou werk te kry met sy kriminele rekord.
“Maar ek sal nie opgee nie. Regverdigheid sal seëvier.”
Smith vra enigiemand van die gemeenskap wat hom kan help om geregtigheid te laat seëvier, om hom te kontak by 0635633256.
Volg FiND iT hier op Facebook.



