Tshwane se Covid-19-syfers, meer as dubbeld in sewe dae

Deel hierdie storie / Share this story

Die aantal aktiewe Covid-19-gevalle wat Maandag  aangemeld is, is vyf keer meer as die getal wat ‘n week gelede aangemeld is.

Volgens ‘n verklaring deur die Stad Tswane is dit nog te vroeg om oor ‘n vierde vlaag te praat, maar inwoners moet nou, meer as ooit, aan die nodige Covid-19-maatreëls voldoen.

Een van die groot bekommernisse is dat mense van elders in die land die stad oor die feesseisoen sal besoek, wat waarskynlik tot ‘n verdere toename in infeksies sal lei.

Volgens die verklaring is die meeste gevalle by die Tshwane Universiteit van Tegnologie se Pretoria-Wes-kampus aangemeld. Hatfield, Atteridgeville, Mamelodi-Oos, Centurion en Soshanguve is ook areas met hoë getalle.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS), het die stad Maandag altesaam 1 689 aktiewe gevalle aangemeld teenoor 362 ‘n week gelede.

Die getalle het ook gestyg van 50 nuwe gevalle per dag tot meer as 300 nuwe gevalle per dag vir die afgelope sewe dae.

Die stad motiveer dus mense wat nog nie ingeënt is nie, om die entstof te kry.