‘My geloof dra my hierdeur’

Deel hierdie storie / Share this story

Louise Booyzen (52), mamma en ouma van Bloemfontein, sê sy is onseker, maar nie bang nie oor die dubbele masektomie wat sy môre moet kry.

Louise woon al vir 48 jaar in Bloemfontein en het twee kinders, Johan en Joline. Sy het ook twee pragtige kleinkinders. Haar man is verlede jaar oorlede.

Sy vertel hoe sy in Oktober ‘n skerp pyn in haar arm en bors ervaar het. “As ek my arm opgetel het, het ek ‘n vreeslike pyn ervaar. Ek het toe ondersoek ingestel en ‘n knop in my bors gevoel.”

Louise was altyd op haar man se mediese fonds en was tydens dié ontdekking gelukkig reeds by ‘n mediese fonds aangesluit om vir ‘n roetineondersoek te kon gaan.

Die dokter kon vasstel dat daar wel ‘n knop in haar bors is en dat sy ‘n mammogram moes laat neem. Dié mammogram kon bevestig dat dit wel kanker is, en haar plek in die operasiesaal is bespreek.

Drie dae ná die knop uit Louise se bors gesny is, het die dokter haar gebel en gesê dat die kanker gelukkig nie versprei het nie.

“Omdat kanker in my familie is en ek reeds familielede aan borskanker moes afstaan, het ek beskuit om ‘n dubbele masektomie te kry.”

Louise vertel dat dit vir haar ‘n moeilike besluit was, maar dat sy bang was dat die kanker kan terugkom en sy dan dalk nie so gelukkig sal wees dat dit vroegtydig gediagnoseer word nie.

“Ek is eintlik nie bang nie,” sê sy. “Ja, ek is onseker, want ek weet nie hoe die pad lyk wat voor my lê nie. My geloof dra my hierdeur. Ek lees Bybel en dan kry ek antwoorde. As my geloof nie so sterk was nie, sou ek dit nie maak nie.”

Sy sê sy voel as die Here nie ‘n doel met haar lewe hier op aarde gehad het nie, het die kanker dalk versprei.

Haar raad aan ander is: “Mens moet sterk wees en op jou knieë bly en met die Here praat. Die Here is daar en Hy het klaar vir ons siektes betaal. Hy sit nie iets op die pad wat jy nie kan hanteer nie. As ons glo en vertrou, sal die Here ons gesond maak.”

Haar kinders en haar vriendin en familie is vir haar ‘n reuse ondersteuningsnetwerk en is daar vir haar deur die moeilike tyd.