AB de Villiers tree uit krieket

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA. – AB de Villiers het sopas bekendgemaak dat hy uit alle krieket tree.

In ’n Facebook-plasing het De Villiers gesê dit was ’n ongelooflike reis, maar dat hy besluit het om uit alle krieket te tree.

Vlam nie meer so helder

“Vanaf die wedstryde teen my ouer broers in die agterplaas, het ek krieket met pure genot en entoesiasme gespeel. Nou, op die ouderdom van 37, brand daardie vlam nie meer so helder nie.”

Hy sê verder dat dit die realiteit is wat hy moet aanvaar. “Dit lyk skielik, maar daarom maak ek vandag hierdie aankondiging. Ek het my tyd gehad.”

Ondenkbare ervarings

“Krieket was besonder goed vir my. Of ek nou vir die Titans, of die Proteas, of RCB, of regoor die wêreld speel, die spel het my ondenkbare ervarings en geleenthede gegee, en ek sal altyd dankbaar wees.”

Nederig

De Villiers skryf verder dat hy graag elke spanmaat, elke teenstander, elke afrigter, elke fisio en elke personeellid wil bedank. “Ek is nederig oor die ondersteuning wat ek ontvang het in Suid-Afrika, in Indië, waar ek ook al gespeel het.”

Familie

“Ek is bewus daavan dat niks moontlik sou gewees het sonder die opofferings wat my familie gemaak het nie. Ek sien uit na die volgende hoofstuk van ons lewens wanneer ek hulle werklik eerste kan stel.”