Die geliefde en bekende Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Theuns Jordaan is gister op die ouderdom van 50 oorlede.
Leukemie is verlede jaar by Theuns gediagnoseer en hy het sedertdien hard daarteen baklei.
Theuns het in 2001 sy debuut gemaak met die album Vreemde Stad en was een van die beste kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf.
Lesers het gesê hulle sal hom altyd onthou vir liedjies soos “Namibsroos”,”‘Soos Bloed”, “Beautiful in Beaufort-Wes” en “Sal Jy Bly”.
Angelique Edwards skryf: “‘Sal Jy Bly’ is my hartsliedjie! Theuns Jordaan se musiek het almal so baie betekenis agter die liedjies! Een van ons huishouding se gunstelinglegendes is nou by die engele. Mag sy siel die rus kry waarna hy gesmag het! Jou musiek sal vir altyd voortleef in ons Afrikaanse tradisie.”
André Viviers sê: “Niemand kon Koos Doep se musiek sing soos Theuns nie.”
Mariana Barker sê: “Sy stem en liedjies was net MOOI. Hoe gaan ons weer ‘n ‘show’ kyk en hy is nie daar nie?”
Hy sou op 10 Januarie 50 jaar oud word. Hy het op ‘n plaas naby Venterstad grootgeword.
Hy word oorleef deur sy suster, Linda, en sy ouers, Willie en Maryna.
Huldeblyke en medelye stroom intussen in op sosiale media en verskeie ander Afrikaanse kunstenaars het huldeblyke aan Theuns geplaas.



