‘Hy het altyd gesê hy gaan nie jonk doodgaan nie’

Deel hierdie storie / Share this story

Die 19-jarige Kaylinlee Long vertel emosioneel van die ongeluk op die “gewone Maandag” wat haar 17-jarige kêrel se lewe vroeër vanjaar geëis het.

Kaylinlee en Marcus Stols was die Maandag op pad na Marcus se ouma se huis om sy skoolklere vir die volgende dag te gaan haal. “Hy sou daardie aand by my oorslaap. Ons het sy sussie gebel, maar toe sy nie antwoord nie, het ons besluit ons ry sommer gou daarheen. Dit was ‘n doodgewone Maandagaand,” vertel sy.

Lees ook: Ma van sterwende seun (5): ‘Kanker, jou wrede dief’

Kaylinlee vertel om dié Odendaalsrus-pad te ry, was nie vir haar iets nuuts nie. “Ek het elke dag daardie pad gery.”

Sy en Marcus was op pad na haar woonstel in Welkom, toe hulle ligte in die veld gesien het. “Ons altwee het na die ligte in die veld gekyk en gewonder waar dit vandaan kom. Skielik het ek net gehoor: ‘Kaylin’, en toe is alles om my swart.”

Kaylinlee se motor met haar agter die stuur het reg onder die vragmotor, wat in die middel van die pad ‘n U-draai gemaak en gestop het, beland. Marcus is op slag dood. Hy het byna al die bene in sy liggaam gebreek en sy brein vergruis.

Kaylinlee sê sy het eers in die hospitaal wakkergeword met ‘n vergruisde elmboog en gebreekte ribbes. “In daardie stadium het ek nog nie geweet Marcus is dood nie. My ouers sê my geheue was soos dié van ‘n goudvissie, ek het die hele tyd gevra waar Marcus is. Hulle kon toe nog nie vir my sê dat hy oorlede is nie, want hulle was bang as ek te diep asemhaal dat my ribbes in my longe steek.”

“Ek het die een dag my ma gevra of Marcus vir my kwaad is dat hy nie kom kuier nie. Dis toe dat sy vir my gesê het hy is dood.”

Intussen gaan Kaylinlee deur hel. Sy en Marcus was vir vier maande in ‘n amptelike verhouding en het al sedert 2016 met mekaar gesels.

“Ons het soveel drome gehad vir die toekoms. Marcus sou na skool by my kom intrek en hy sou tien teen een sy rugbyloopbaan verder vat.”

Marcus was ‘n leerling aan Hoërskool Goudveld en Kaylinlee vertel hy was ‘n uitblinker in sport.

“Daar is soveel goeie herinneringe saam met Marcus wat ek vir altyd sal koester. Maar een spesifieke ding wat ek altyd sal onthou, is dat hy gesê het hy gaan nie jonk doodgaan nie.”

Sy sê Marcus was ook iemand wat baie aan die toekoms gedink het. “Hy was nie iemand wat sommer die hede se oomblikke sou geniet nie, hy sou altyd vra: ‘Wat van môre?'”

Die vragmotorbestuurder is die aand van die ongeluk in hegtenis geneem en ondervra. Na hy sy verklaring afgelê het, is hy vrygelaat. Kaylinlee sê die polisie kon na die tyd vasstel die bestuurder het verkeerde inligting in sy verklaring gegee en dat die polisie tans na hom op soek is. Hy kom glo van Namibië af.

Dan vertel sy van die moeilike tyd waardeur sy is en dat haar familie en Marcus se familie baie ondersteunend is. “As dit nie vir my ouers was nie, wat met elke operasie daar is vir my, dan sou ek dit nie gemaak het nie.”

Kaylinlee vertel dis vir haar baie belangrik dat motor- en vragmotorbestuurders versigtig is en kyk waar hulle ry. “Ry stadig en kyk mooi. Miskien dink jy daar is niks voor jou nie.”