Water stroom maande in Fabricia

Deel hierdie storie / Share this story

Water stroom al vir maande uit ’n lekkende pyp in die veld tussen Oliverstraat en Fabriciaweg. Die water dam in die veld op en stroom in Fabriciaweg in die pad af.

Eienaars van besighede in die gebied sê Fabriciaweg het nou sy eie ekosisteem.

Ockie Fourie, DA-raadslid van Wyk 25, sê dit is duisende en duisende liters water wat daagliks hier wegspoel. Hy het die oorsaak van die probleem gaan soek en dit by die Sol Plaatje-munisipaliteit aangemeld.

“Die pad se oppervlakte wat onlangs herstel is, gaan weer verbrokkel weens die konstante stroom van water. Die lek is as gevolg van ’n poging wat deur waterwerke aangewend is om die pyp reg te maak. Dit is al maande en maande wat die pyp steeds lek.”

Kimberley Online Co. het navraag by Sol Plaatje-munisipaliteit gedoen en wag vir terugvoer.