Verdrinkende man steeds vermis

Deel hierdie storie / Share this story

HEROLDSBAAI. – ’n Onbekende man het Saterdag om 11:15 hier vermis geraak toe hy deur ’n gety meegesleur is.

Mike Vonk, die NSRI Wildernes se adjunk-stasiebevelvoerder, sê die NSRI Wildernes-dienspersoneel het verskeie ooggetuieverslae van ’n verdrinking ontvang.

“Twee plaaslike omstanders en ‘n branderplankryer het die water binnegegaan in ‘n poging om ‘n man van Gqeberha, wat in sy 20’s is en wat na die see meegesleur word, by te staan. Voordat hulle by hom kon uitkom, het die man reeds onder die water verdwyn.”

Volgens Vonk het ander plaaslike branderplankryers ook by die soektog aangesluit.

’n Uitgebreide soektog in die see en teen die kus het voortgegaan.

’n Uitgebreide soektog in see en teen kus

“Twee NSRI-reddingswemmers is vanaf die seereddingstuig, St Blaize Rescuer, in die water ontplooi en het vryduik-soektogpogings gedoen.

Ons het tydens die soektog van ‘n Indwe Aviation-helikopter, wat vanaf die Danabaai-omgewing was, bewus geword. Die kaptein het ook by die soektogpoging aangesluit.”

Vonk sê ten spyte van ‘n uitgebreide lug-, see- en kuslynsoektog is daar steeds geen teken van die vermiste man nie.

“Die polisie het ‘n ondersoek geopen en die soektog duur steeds voort.

Nog nie geïdentifiseer nie

Garth Dominy, van die NSRI, sê niemand het nog te vore gekom en die vermiste man geïdentifiseer nie.

“Ons gedagtes is by die familie, kollegas en vriende van die vermiste man in hierdie moeilike tyd,” sê Vonk.