Man veg vir lewe na in kop geskiet

Deel hierdie storie / Share this story

Len Cloete, ‘n pa en eggenoot van Pretoria, is tans besig om vir sy lewe te veg nadat hy deur ‘n polisieman in sy kop geskiet is.

Die voorval het by die Misty Hills Lodge in Muldersdrift in Gauteng plaasgevind.

Op die video van die voorval, wat in FiND iT se besit is, is drie polisielede in ‘n onderonsie met Cloete. ‘n Vrou sê dan in die agtergrond hulle wil slaap. Cloete kan dan gehoor word vra: “waar’s my gun?”

‘n Polisievrou sê dan “no you are playing dangerous.” Cloete vra dan: “who is playing dangerous? You F*&*^%% coward. Come on! You F&*^()%* asshole.” Hy laat val dan sy magasyn op die grond. “The problem is, I know how to use this f*&^() thing.”

‘n Vrou sê dan in die agtergrond: “you are supposed to feel endangered. Police are here to protect us. Guys, you are supposed to protect us.”

Cloete vra dan dat die polisie die eiendom verlaat.

‘n Man neem die hele voorval af.

Cloete blyk dan ‘n vuurwapen by een van die polisiemanne te gryp nadat hulle weier om die eiendom te verlaat, ten tyde hy skree: “shoot me, shoot me!”

Dis dan wat ‘n ander polisieman na hom mik en hom skiet.

‘n Vrou gil dan: “Len is dood!”

Mike Bolhuis, privaatondersoeker van Specialised Security Services, sê dit is ’n jammerte dat die video uitgelek het.

Bolhuis het aan FiND iT gesê Cloete en sy vrou, Chantal, het Vrydag by die gastehuis aangekom. ’n Argument het ontstaan omdat die kamers nog nie gereed was nie en die egpaar het by ’n restaurant gaan eet. Die paartjie, asook die gastehuisbestuur, het later die aand die polisie ontbied, waarna die onderonsie uitgebreek het.

Volgens ‘n ander bron wou die gastehuisbestuur nie hê Cloete moet met ‘n wapen die gastehuis betree nie.

Bolhuis sê aan FiND iT protokol moet gevolg word wanneer die polisie hulle wapens gebruik. Dié protokol sluit in waarskuwings, dan ‘n vuurwapen te voorskyn bring, dan die wapen rig en dan ‘n waarskuwingskoot op die grond skiet. Daarna in die voet. Die polisie kan slegs dan, as ‘n laaste uitweg in dreigende gevaar, iemand skiet. “Verkieslik nie dood nie.”

Bolhuis sê dit gaan tans beter met Cloete. “Hy is steeds in intensief. Daar is baie swelling en baie goed om na te kyk. Hy is onder streng mediese observasie.”

Cloete se vrou het op Facebook vir gebede gevra vir haar man. “My hart is gebreek. Ons vat dit dag vir dag. Ons mis jou! Die kinders wag vir jou. Veg my man, ek kan jou nie verloor nie, nie so nie. Bid asb. almal vir ‘n wonderwerk.”

Bolhuis se span sal nou ondersoek instel of al die polisie se protokol gevolg is.

Die polisiebeamptes se name is aan FiND iT bekend. FiND iT het ‘n navraag by die polisie gedoen, maar nog geen terugvoer ontvang nie.