Koos Goodchild (61) se besigheid, JC Grens Motors, is genomineer as een van die besighede in Bloemfontein wat die laaste tyd ‘n baie goeie diens gelewer het.
Colleen Brits sê: “JC Grens Motors van Wepener met Koos Goodchild as eienaar. Hy maak al amper 40 jaar die boere in die kontrei se trekkers, stropers en bakkies reg. Hy het ‘n baie goeie werksetiek en is baie eerlik. Niemand anders as hy mag aan my voertuie werk nie!”
Koos vertel hy bly al sy lewe lank in Bloemfontein en hy is al van 14-jarige ouderdom af met “ysters” doenig. “Ek het baie by my pa, Jan Goodchild, geleer. Ek het my ambag gedoen en in 1981 as dieselwerktuigkundige gekwalifiseer.”
Op 3 September 1989 het Koos sy pa se besigheid oorgekoop en die naam van Border Motors na JC Grens Motors verander ter nagedagtenis aan sy pa.
“My ervaringsveld is wyd en sluit herstelwerk en instandhouding van bakkies, trekkers, stropers en vragmotors in.
My werkswinkel is op Wepener, maar die oop lug van die plase is my algemeenste werkswinkel, want ek ry na die kliënte toe waar die stukkende voertuie of trekkers is om sodoende ‘n beter diens te kan lewer.”
Koos werk in die hele Vrystaat en gaan tot so ver as Kimberley in die Noord-Kaap waar hy ook vir die laaste ses jaar ‘n plaas se voertuie en masjienerie in stand hou.
“Ek glo dat ‘n mens op ‘n stil manier jou merk moet laat deur uitstaande diens te lewer en dan ook op so ‘n manier dat daardie kliënt voel hy/sy was die belangrikste persoon in jou dag en dat hy vrymoedigheid het om weer terug te kom na jou toe. Wat ook baie belangrik is vir my is om altyd eerlik te wees. Ons is almal net mense en maak ook foute, maar soos ek my kinders geleer het – erken as jy verkeerd was en maak dit reg, want eerlikheid is ‘n rare kommoditeit in die lewe van vandag. Ek kan met ‘n rein hart sê dat ek my beste doen om die reguit pad te loop en om te help waar ek kan. My prysstruktuur vir my kliënte is ook van so ‘n aard dat dit bekostigbaar is.”
Koos sê omdat hy meestal met die boeregemeenskap werk en weet dat hulle baie
uitdagings soos brande en droogte ervaar, probeer hy om hulle ook tegemoet te kom.
“Deur die genade van Ons Vader is ek nog in staat om voltyds voort te gaan met my werk, veral in hierdie uitdagende tye wat Covid-19 teweeggebring het. Ek glo en vertrou dat ek nog ‘n hele paar jaar aktief sal kan voortgaan met my werk wat meer ‘n plesier is, want as jy geniet wat jy doen, dan sal jou werk nie een dag in jou lewe soos werk voel nie!”



