Die agt maande oue Karien was slegs vier maande oud toe sy as gevolg van ‘n uitslag vir die eerste keer in die hospitaal beland het. ‘n Biopsie is dadelik gedoen. Karien is gebore met ‘n genetiese defek, SCID (severe combined immunodeficiency).
Soos enige ander baba het Karien al drie lewendige virusinentings op ses weke gekry en van daar af haar verdere inentings. Karien kon dit in dié stadium nog onderdruk, maar net voor haar 14 weke inenting het sy siek geword en kon geen verdere immuniserings kry nie.
Sy het goed reageer op die antibiotika en kortisoon wat sy in die hospital ontvang het en hoewel sy positief getoets het vir entero- en rhino-virus, is sy steeds ontslaan, aangesien die medikasie wat sy moes kry by die huis toegedoen kon word.
Na agt dae van hospitalisering is sy dus op 22 Augustus huis toe.
Op 8 September, na slegs twee weke by die huis, word Karien vir ‘n tweede keer weens haar asemhaling wat te vinnig is in die hospitaal opgeneem. Sy is op 8 September in die ongevalle-afdeling opgeneem en dadelik het die dokter met behandeling begin. Steeds het haar asemhaling nie verbeter nie en is sy die volgende dag weer oorgeplaas na Little Company of Mary toe om ‘n pediatriese pulmonoloog te sien.
Dr. Adel Roux, van die Little Company of Mary-hospitaal, het gedink Karien het net ‘n slegte longontsteking en haar op suurstof en antibiotika geplaas. Ten spyte hiervan het Karien se toestand nie verbeter nie.
‘n Paar dae later was Karien se armpie lam. “Haar lyfie het in hierdie stadium op geen medikasie, ook nie antibiotika gereageer nie,” vertel haar ma, Natasja Swanepoel.
Nadat dr. Roux vermoed het Karien het polio, het sy die nodige toetse gedoen wat na die National Health Information Center (NHIC) gestuur is. In hierdie stadium was daar ‘n groot bekommernis oor wat ‘n positiewe poliotoets vir Karien se gesondheid sal beteken. Die toetse, waarvan die uitslae ‘n redelik rukkie neem om terug te kom, het toe wel bevestig dis polio.
Dr. Roux het ook aan Natasja en haar man, RJ gesê sy vermoed Karien het SCID, maar dat sy haar eers gaan toets daarvoor.
Die toetse, wat nie deur die mediese fonds gedek word nie, word deur Invitae in Amerika gedoen. Die Swanepoels het die kostes self gedra en wou in hierdie stadium net antwoorde hê. SCID is ‘n genetiese defek en dr. Roux asook prof. Du Plessis, ‘n infeksiespesialis, het Natasja en RJ reeds op die resultate voorberei.
“Ons het ook met ‘n genetiese spesialis van Ampath gepraat en sy het ons deur die hele proses geneem. “Ons was reeds voorberei voor ons die resultate gekry het.”
Dr. Roux was bekommerd dat Karien oor die naweek te moeg sou raak om asem te haal omdat haar toestand versleg het. Sy is oorgeplaas na Cintocare se pediatriese intensiewe eenheid waar sy deur dr. Magda Verster op ‘n ventilator geplaas is. Karien se lyfie het in dié stadium steeds alle medikasie verwerp.
Dokters het vir ‘n laaste keer probeer om te kyk of Karien op antibiotika reageer, en sy het toe. Haar longe het ook intussen opgeklaar en kon sy weer sonder die ventilator asemhaal. Karien is steeds op stuurstof – hierdie keer net ‘n baie lae dosis omdat sy nog teen die infeksie baklei.
Die vermoede is dat die longtoestand verband hou met die BCG-enting (TB-enting) gegewe die feit dat dit die enigste medikasie was waarop haar lyfie reageer het en ook wat gehelp het dat haar longe opgeklaar het.
BCG is ook ‘n lewendige vaksiene. Volgens Natasja behoort ‘n baba wat SCID het, nie lewendige vaksiene soos teen polio, rota en BCG te kry nie. Haar ouers het egter nie geweet dat sy met SCID gebore was nie omdat sy altyd ‘n gesonde baba was. Karien is tans besig met haar geveg teen die rotavirus ook.
Karien het ongeveer 10 dae gelede met Pocapavir-medikasie vanaf Amerika begin. Sy neem tans deel aan ‘n kliniese studie.
Vir die gebruik van die medikasie moes Natasja en RJ deur middel van prof. Du Plessis, by die parasitiese maatskappy, wat dit vervaardig en PSSA (Pharmaceutical Society of SA), toestemming kry sodat sy die medikasie kan gebruik.
Dit was vir die Swanepoel-gesin ‘n lang en moeilike proses om te kom waar hulle vandag is. Nadat Karin in die hospitaal opgeneem is, het hulle ‘n tweede biopsie gedoen, alle denkbare toetse vanaf MRI, lumbale punksie, bloedtoetse, noem maar op. “Haar lyfie is al deur soveel in so ‘n kort tydjie,” sê Natasja.
Karien se linkerarmpie het al voor die medikasie begin herstel en hulle is positief dat die polio se effek omgekeer kan word. “Ons moet nou wag en kyk of die polio haar senuwees aangetas het. Die grootste probleem is op die oomblik haar handjie. Ons werk gereeld saam met ‘n arbeidsterapeut om die funksionaliteit van die handjie terug te kry.”
Die Swanepoel-gesin het ‘n skarebefondsing vir Karien se beenmurgoorplanting en mediese onkostes gestig.
As deel van die mandaat gaan die Swanepoels enige geld wat oorbly, skenk aan DKMS sodat hulle die volgende gesin in ‘n soortgelyke situasie kan help.
Vir verdere inligting kan u die volgende skakel gebruik: https://www.backabuddy.co.za/champion/project/karien-swanepoel






