Geen water vanaf stemdag

Deel hierdie storie / Share this story

WARRENTON. – Inwoners hier sukkel al sedert Oktober met geen of min water.

Die Magareng-munisipaliteit het op hulle Facebook-blad inwoners reeds op 10 Oktober 2021 in kennis gestel dat hulle probleme met hulle waterpompe ondervind.

Op 13 Oktober het die munisipaliteit ‘n verklaring uitgereik en verduidelik dat daar ‘n watertekort in die omgewing is weens lae watervlakke by die reservoirs. “Die beurtkrag beïnvloed die produksie van water by die watersuiweringsaanleg, omdat die aanleg nie vir 24 uur per dag, soos vereis, werk nie.”

Die verklaring verduidelik ook dat die situasie eers sal verbeter nadat die watervlakke by die reservoirs verbeter het en beurtkrag verminder het.

Verskonings

Dirk Moses (53), ’n inwoner hier, het aan FiND iT gesê dat hulle vanaf stemdag (1 November 2021) geen water het nie. “Ons kry geen antwoorde vanaf die munisipaliteit nie. Eers het hulle gesê dit is as gevolg van die loadshedding. Daarna was dit oor die brandkrane wat afgery is, waarvan twee al reeds reggemaak is. Die volgende verskoning was as gevolg van ’n gat in een van die waterpype, maar dit is ook reeds vier dae gelede al herstel.”

Moses sê dit voel asof die gemeenskap heeltyd vir enige inligting of antwoorde moet soebat.

Gemeenskapslede staan saam

“Die munisipaliteit het ook geen watertenke uitgesit nie en bied ook geen hulp aan die inwoners om water te bekom nie. Ons het gemeenskapslede wat water aanry soos hulle kan. Die een inwoner wat ons gehelp het, se enjin het opgepak. Ander gemeenskapslede wat boorgate het, probeer ons ook help.”

Foto: Inwoner help water aanry.

Steeds besig met onderhoud

Volgens inligting wat vandag op die munisipaliteit se Facebook-blad geplaas is, is hulle tans steeds besig met onderhoud en duur die wateronderbrekings voort. “Die proses sal vandag voltooi word, waarna water dadelik gepomp en versprei sal word.”

Die munisipaliteit was nie beskikbaar ten tyde van publikasie nie.