Die 13-jarige tweeling, Danyelle en McKenna Pienaar, het onlangs hulle skool se naam hoog gehou by die Eskom-wetenskapekspo.
Danyelle en McKenna is gr. 7-leerlinge aan die Primêre Meisieskool Oranje.
Dié wetenskapekspo bied die geleentheid vir jong wetenskaplikes om hulle projekte oor hulle eie wetenskaplike ondersoeke uit te stal. Geselekteerde studente uit 35 streke ding mee teen ander jong wetenskaplikes regoor die land en ook oor die wêreld.
Annelise, die tweeling se ma, sê hulle het in die Vrystaat-streek deelgeneem waar hulle ‘n goue medalje verower het.
Die tweeling is toe ook genooi om internasionaal deel te neem, waar hulle ook ‘n goue medalje ontvang het.
Danyelle en McKenna se projek was om te bewys dat oorryp lemoene meer Vitamien C as ryp lemoene bevat.
“Ons as ouers is baie trots op die tweeling,” sê Annelise. “Hulle geniet wetenskap verskriklik baie en hulle is opgewonde om weer aan die ekspo te kan deelneem wanneer hulle in die hoërskool is.”



