‘Ek sal sy glimlag altyd onthou’

Deel hierdie storie / Share this story

Elsie Harding, mamma van die 18-jarige Riaan Kalp wat Vrydagaand tragies in ‘n ongeluk oorlede is, sê haar seun was ‘n lieflike mens wat van kleintyd af haar steunpilaar was.

Bloemfontein Online Co. gesels met Elsie en haar sussie, Marelize Beylefeld, oor die moeilike paar dae ná Riaan se skielike, onverwagse dood op 5 November.

“Hy was vir 18 jaar vir my geleen. Hy was ‘n lieflike seun. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy was altyd bereidwillig om enigiets te leer.”

Elsie vertel haar seun het self die Warrior-motorfiets waarmee hy verongeluk het, opgebou. “Hy het daardie motorfiets van die grond af opgebou. Hy het die parte gekoop en dit alles self reggemaak.”

Dan vertel sy van die tragedie op Vrydagaand. “Ons was Vrydagaand op pad dokter toe. Ek het hom gevra dat hy by die huis bly, maar jy weet mos hoe is seuns. Hy was daardie aand na sy beste vriend, Lionel, toe voor hy by sy ouma gestop het. Sy jonger boetie, Martin Kalp (15), het nog die aand gevra of hy kan saamry, maar Riaan het vir hom gesê: ‘Nie vanaand nie’. Riaan het geglo dat jy ALTYD ‘n helmet moet aanhê en daar was nie ‘n ekstra een vir Martin nie.”

Elsie sê volgens ‘n ooggetuie het Riaan drie maal om die blok gery. “Ons vermoed hy het probeer ‘drift’, en dis hoe die ongeluk plaasgevind het. Hy het om die draai gegaan toe die motorfiets se wiel aan die randsteen van die sypaadjie vasgehaak het. Sy helmet het afgegaan en sy kop het die lamppaal getref.”

Toe die paramedici Riaan Kalp, Riaan se pa, bel ná die ongeluk, het hulle vir hom gesê dis nie nodig om te jaag nie. Hy is op slag dood. “Ek was histeries. Toe ek daar aankom, was hy reeds toegegooi. Sy skoentjies het eenkant gelê,” sê Elsie.

Elsie, wat ook môre haar verjaarsdag vier, se boetie is 29 jaar gelede op die ouderdom van 15 op dieselfde dag oorlede.

Marelize sê dis ‘n baie moeilike tyd vir hulle as familie. Elsie, Riaan se pa, sy boetie Martin en sy ouer boetie Alexander was Woensdagoggend vir berading.

Riaan was ‘n gr. 11-leerling aan Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein. Sy ma vertel hy wou na matriek vir ‘n dieselwerktuigkundige gaan studeer en dat dit nog altyd sy droom was.

Sy deel dan een van die laaste goeie herinneringe wat sy van Riaan het. “Hy het altyd vir my gesê ek moet onder sy arm kom staan, omdat ek so kort is. Hy was altyd vol grappe. Die laaste keer wat hy dit gedoen het, het hy vir my gevra: ‘Mamma, hoekom is Mamma dan vanmôre só kort?'”

“Ek sal altyd sy glimlag onthou. Hy het ons almal altyd laat lag.”

Elsie sê sy skryf al vandat sy baie jonk is gedigte, en het besluit om as laaste huldeblyk aan haar seun, vir hom ook ‘n gedig te skryf.

“Ek het gedink dit gaan moeilik wees, maar toe ek begin het, het die woorde net gekom.”

Reëlings vir Riaan se begrafnis vir Vrydagoggend om 11:00 is in plek. Die begrafnis vind plaas vanuit die NG Kerk Vooruitsig. Marelize sê hulle het van die plaaslike motorfietsryers in die stad gevra om, al het hulle Riaan nie persoonlik geken nie, hulle laaste eer aan Riaan te toon deur by sy begrafnis te gaan ry.