DogTV is ‘n nuwe betaalkanaal wat onlangs ontwikkel is na studies oor diere se fisiologiese en sielkundige behoeftes, buie en reaksies. Volgens ‘n verklaring deur die vervaardigers sal die program jou honde help stimuleer en ontspan.
Die kanaal, wat oor drie jaar geskep is, sal prettige tekenprente uitsaai waarin ander honde verskyn. Die programme is spesiaal ontwerp om verveling te voorkom en jou beste vriend verstandelik te stimuleer.
Die kanaal fokus ook daarop om deur die programme simptome soos skeidingsangs, eensaamheid en stres te verlig. Dit sal ook programme hê vir eienaars om te help om hul troeteldiere beter te verstaan en na hul om te sien.
Kalm tonele en sagte klanke sal jou hond deur die loop van die dag kalm hou, veral nou dat soveel mense na die inperking weer terugkeer werk toe.
Volgens DogTV ly een uit ses honde aan openlike skeidingsangs. Simptome kan wissel van oormatige blaf en weiering om te eet, tot pogings om te ontsnap en vernietigende gedrag.
Die kleure, oudiofrekwensies en kamera-belyning is aangepas vir honde se sintuie. Van die programme het ook beperkte blootstelling aan alledaagse klanke sodat jou hond gewoond kan raak aan dinge soos ‘n motorrit of die deurklokkie.
Die kanaal, wat reeds in ander lande beskikbaar is, bevat ook programme deur honde-afrigters wat wenke sal gee oor hoe om met ‘n troeteldier in die huis of buite te lewe, asook programme met eenvoudige resepte vir honde van The Dog Chef, Dogs A-Z en Meet the Breed.
Britse diere-afrigter Victoria Stilwell het gesê: “Mense dink dat DogTV aanvanklik ‘n bietjie van ‘n vreemde konsep is, maar as ek vir hulle vertel hoeveel navorsing hier ingegaan het – dat hierdie TV-kanaal hul honde kan help terwyl hulle alleen by die huis is, verbeter hul lewens aansienlik en help dit met stres en angs.”
Die diens is beskikbaar op slim-TV’s, Android- en Apple-toestelle en aanlyn by http://watch.dogtv.com. Kostes beloop R147 per maand of R1 245 per jaar.



