Die 28-jarige Raven Nel vertel sy motto in die lewe is om vir sy graad 6- en 7-leerlinge te wys dat hy nie net ‘n “male model” is nie, maar ook ‘n “role model”.
Nel is nie net ‘n model, die ambassadeur van On Point Lifestyle Magazine en Sir SA 2021 nie, hy gee ook klas by Roseview in Bloemfontein.
Nel het ook onlangs die Excellence in Primary School Teaching-toekenning by die National Teacher Awards gewen.
Raven vertel hy is deur die skool in sy distrik genomineer, waar hy toe sy provinsie op nasionale vlak gaan verteenwoordig het. “Net om jou provinsie te gaan verteenwoordig, is reeds ‘n groot eer. Dit beteken jy is in die top 9 in die land!”
Raven het ook ‘n hele string toekennings by vanjaar se Pageant SA ingeryg soos Sir SA 2021, Highest Overall Score for Senior Males, Face of Sir South Africa, Best Ramp Model, Best In Interview, Mr Photogenic, Best Dressed Evening Wear en Best Theme Outfit.
Raven sê dis vir hom ongelooflik om ‘n rolmodel vir die kinders in sy klas te wees. “Ek sê altyd ek wil hê hulle moet weet dat as ek dit kan doen, hulle ook kan. ‘n Mens kan opkyk na bekendes en droom om eendag ook daar te wees, maar as jy vashou aan jou drome en hard werk, kan jy ook daar uitkom.”
Raven het in 2017 ook aan Mnr. SA deelgeneem en in 2019 aan Mnr. Sentraal SA.
Raven gee tans vir graad 7-en graad 6-leerlinge natuurwetenskappe, kreatiewe kuns, Afrikaans en tegnologie. Hy sal ook nou in die vierde kwartaal as departementshoof vir Engels en sosiale wetenskappe optree.
“I’m not only a male model, but a role model.”



