Klein Rhyn hou aan veg ten spyte van diagnose

Deel hierdie storie / Share this story

Klein Rhyn Scheepers (5), wat die dokters aanvanklik slegs vyf maande gegee het om te leef, hou aan veg na hy met ‘n baie skaars diffuse laegraadse glioom gediagnoseer is.

Sy ma, Carmen Scheepers (38) gesels met ons oor die moeilike pad wat hulle die afgelope paar jaar loop.

Carmen het ook ‘n dogtertjie van nege maande, Lente.

Carmen werk as ‘n sekretaresse vir ‘n regter by die appèlhof in Bloemfontein.

Carmen vertel hoe hulle toe Rhyn op die ouderdom van twee maande vreemde rukkings begin kry het, gevoel het iets is fout. “Ons het die pediater daarvan vertel en hy het vir ons gesê om net ‘n video van die rukkings te neem. Die pediater kon toe ook optel dat iets verkeerd is, en Rhyn is vir MRI-skanderings gestuur.”

Carmen vertel dit wat die pediater aanvanklik op die MRI-skanderings kon sien, was baie klein, en dat hulle Rhyn nie dadelik kon diagnoseer nie. Rhyn is egter na ‘n neurochirurg gestuur wat hom dadelik wou sien.

Kort na Rhyn se eerste verjaardag kon hulle met nog ‘n skandering vasstel dat die gewas op sy brein in grootte verdubbel het

Die neurochirurg het besluit om dit uit te sny. Hulle kon steeds nie vasstel wat dit is nie, en die chirurg het dit toe vir toetse oorsee gestuur.

“Hulle kon toe vasstel dis ‘n ‘diffused low-grade’ glioom,” vertel Carmen.

Hulle moes toe die nuus ontvang dat hulle die gewas nie kan behandel nie en dat chemoterapie ook nie die gewas heeltemal kan uitwis nie, maar dat chemoterapie die groei daarvan kan belemmer.

Carmen vertel dat hulle in die laaste twee jaar gelukkig genoeg was dat die gewas nie gegroei het nie. “Op die oomblik gebruik Rhyn natuurlike medikasie en ons neem hom jaarliks vir ‘n skandering.”

Carmen vertel hoe aaklig die onsekerheid voor Rhyn se diagnose vir hulle was. “‘n Mens kan dit nie beskryf nie. En dis juis dit. Die onsekerheid. Daar was nooit direkte antwoorde nie. Niemand het geweet wat fout is nie. My man het aande en aande om gesit en sonder ophou navorsing gedoen.”

Sy vertel hulle kan nie sê Rhyn se diagnose is ‘n verligting nie. “Omdat geen behandeling kan werk nie, moet ‘n mens leer om daarmee saam te leef. Ons is gelukkig dat hy geen simptome het nie, dit laat ‘n mens sommer soms ‘n bietjie vergeet.”

Carmen sê Rhyn sal dalk nie in die toekoms chemoterapie ontvang nie, omdat dit net sy lewenskwaliteit sal verswak en ook omdat daar geen hoop is dat chemoterapie die gewas kan laat krimp nie.

Sy vertel hoe dankbaar hulle is vir die hulp wat hulle van die gemeenskap ontvang. “Ag, daar is nie woorde nie. In die verlede het ons baie hulp gekry toe ons gevra het. En nou ook. Hy het ‘n Facebook-blad, Magic for Rhyn, en as daar mediese onkostes is wat gedek moet word, kan ek daarop vra. Die gevoel van verligting wanneer mense saamstaan en help, is onbeskryflik. In ‘n tyd soos vandag wat finansies juis vir soveel mense reeds ‘n probleem is, kan enige ekstra uitgawes druk op ‘n mens sit, wat weer bydra tot stres.”

Carmen se raad aan ander mammas wat miskien deur soortgelyke situasies gaan, is:

“Volg jou instink. As jy bang is iets is nie reg nie, iets voel verkeerd of onnatuurlik, gaan sien ‘n dokter. As dit niks is nie, reg. Maar almal het vir my gesê dis niks en ek’t bly voel iets is nie reg nie. Reageer daarop! Staan ander mammas by wat deur sulke goed gaan as jy self nie daardeur gaan nie, want dit beteken meer as wat enigiemand ooit sal kan sê. En as jy gelukkig is om ‘n gesonde kindjie te hê, sê dankie. En lewe elke dag voluit met jou kind.

“Ons het wel geleer dat hoe lank ons ook met hom het, help dit nie om die tyd wat jy gekry het saam met hom te mors op berkommernis nie. Lewe elke dag, elke sekonde voluit, sodat indien ons Liewe Vader hom sou wegvat, ons iets het om na terug te kyk en ons nie net so bekommer het dat ons alles gemis het nie.”