Gemeenskap in rou na dood van Hanru (16)

Deel hierdie storie / Share this story

Die hele Vrystaatse gemeenskap is in rou gedompel na die skielike, onverwagse dood van die 16-jarige Hanru Posthumus.

Hanru, wat vir die naweek op sy ouers se plaas naby Christiana was, was op pad om saam met sy pa, Gerhard, te gaan jag. Hy was besig om sy pa se jaggeweer skoon te maak en gereed te kry vir die jagtog toe die tragedie afgespeel het.

Hanru moes die sneller per ongeluk getrek het en hy is in die kop geskiet.

Volgens kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, is Hanru op slag dood. Die polisie vermoed ook geen vuilspel nie.

Hoërskool Sentraal, waar Hanru skoolgegaan het, het ‘n foto van Hanru op Facebook gedeel en baie mense het kommentaar gelewer.

“Dis hartverskeurend,” skryf Annette Grobler. “Ons innigste meegevoel aan die families en geliefdes.”

Jan Lubbe, dominee by Berg en Dal-gemeente, skryf: “Verlede Woensdagaand nog, soos die hele jaar al, langs my in ons Graad 10-katkisasiegroep gesit. Onwerklik is sy heengaan, en baie seer vir sy maats en hulle as familie. Innige simpatie.”

Hansie en Elzaan Human skryf: “Ons het ook nie woorde nie. Ons dink aan julle as ouers, gesin en familie in die bitter hartseer tyd. Mag Jesus julle dra in die tyd.”

Johan Vermeulen onthou Hanru as ‘n vriendelike seun. “‘n Jong man wat my altyd beïndruk het met sy vriendelikheid en goeie maniere. Sterkte Gerhard en Lizelle en julle familie! Net God kan julle troos.”

Hanru word deur sy ma Lizelle, sy pa Gerhard en sy broer en sussie oorleef.