Man vertel: ‘Ek kan nie loop na Pfizer-ent’

Deel hierdie storie / Share this story

“Ek sukkel om te loop. Ek kan nie loop nie. En ek was ‘n baie bedrywige man. Nou lê ek in die bed.”

Só vertel die 71-jarige Ben Booyens van Saldanhabaai ‘n bietjie meer as ‘n maand na hy die Pfizer-inenting teen Covid-19 ontvang het.

Booyens vertel hy en sy vrou, Sharma Jodessar (74), het in Junie vanjaar altwee Covid-19 opgedoen. Jodessar, wat ‘n mediese dokter is, het ‘n week voor Booyens haar Pfizer-inenting gekry.

“Toe sy na byna ‘n week oukei was en niks oorgekom het nie, het ek besluit om ook te gaan en te kyk wat gebeur. Op 21 September het ek my inenting gekry.”

Booyens vertel hoe sy lewe byna dadelik onherroeplik verander het. Hy het gewrigspyne, pyne in sy skouers, vingers, hande, elmboë, knieë en enkels gekry.

“Toe begin ek sukkel om te loop. Selfs toe die pyne in my lyf weggegaan het, kon ek steeds nie loop nie.”

Booyens vertel hy is in die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad opgeneem waar hy vir ses dae was.

“Die dokters het toetse gedoen, breinskanderings omdat hulle vermoed het dat my verlamming as gevolg van ‘n beroerte was. Hulle het toetse gedoen op my spinale koord en ook van my senuweestelsel. Hulle het bloedtoetse gedoen. Maar niemand kon verstaan hoekom ek nie meer kan loop nie.”

Booyens vertel hoe hy voorheen die land vol gereis het om sendingwerk te doen. “Nou lê ek meeste van die tyd in die bed. Soms gaan sit ek vir ‘n rukkie in die sitkamer, tot my linkerarm geweldig seer raak. Ons het nou ons huis ook verkoop, omdat ek nie meer die trappe kan klim nie.”

Booyens en sy vrou verhuis binnekort na Gansbaai en Booyens vertel dat hulle nou ‘n huis sal moet bou waarin hy gemaklik sal kan rondbeweeg.

“My vrou help my nou met alles. Selfs wanneer ek die toilet wil gebruik, moet sy my help. As sy nie hier is nie, dan weet ek nie.”

Booyens vertel geen dokter kon formeel aan hom bevestig dat sy loopprobleme as gevolg van die Pfizer-inenting is nie, maar dat hulle bloot vir hom kan sê dat hulle dit vermoed. Omdat sy vrou ook nie sy dokter is nie, kan sy ook nie kommentaar lewer nie.

FiND iT het die Christiaan Barnard-hospitaal om kommentaar genader.