Nails by Maryke is deur JOU genomineer as een van die besighede in Bloemfontein wat in die laaste tyd ‘n baie goeie diens gelewer het.
Maryke Botha (31), eienaar van Nails by Maryke, vertel vir ons hoe dit voel om genomineer te wees, hoe sy haar besigheid begin het en hoe sy as klein dogtertjie altyd gedroom het daarvan om ‘n naeltegnikus te wees.
Nails by Maryke bestaan al sedert 2013 en voor Maryke na Bloemfontein verhuis het, het sy haar besigheid vanuit Johannesburg bestuur.
“Ek droom al vandat ek ‘n klein dogtertjie is daarvan om eendag naels te doen. Ek het my altyd verkyk aan die werk wat die naeltegnikus met my ma se naels gedoen het. Ek het altyd gebid: ‘Liewe Jesus, seën hierdie handjies dat ek eendag baie mooi naels sal kan doen en dat my kliënte gelukkig is.'”
Verder vertel Maryke was dit ook altyd ‘n groot droom van haar om vir haarself te kan werk en ook ‘n “safe space” vir kliënte te bied waar hulle, sonder om geoordeel te word, hulleself kan wees.
Sy sê die feit dat sy genomineer is, laat haar emosioneel voel. “Ek het nooit gedink dit sou gebeur nie. ‘n Mens gaan deur sulke moeilike tye wanneer dit vir jou voel asof niemand jou raaksien nie, en dan skielik sien hulle jou raak. Dis ‘n lekker gevoel, ek is baie verbaas!”
Maryke vertel wat sy voel haar werk uniek en spesiaal maak, is die feit dat dit vir haar baie belangrik is om ‘n goeie diens te lewer. “Daar kan 10 naeltegnikusse wees, maar as jou diens goed is, gaan die kliënt na jóú toe terugkom. Dis ook belangrik dat die kliënt met die intrapslag by jou gemaklik voel. Hoe jy jou kliënte hanteer, is baie belangrik.”
Sy sê om vir haar kliënte te wys dat hulle nie net ‘n nommer is nie, is ook haar manier om met die kliënte ‘n verhouding op te bou. “Goeie diens en goeie kommunikasie gaan hand aan hand!”
Verder vertel Maryke dat om naels te doen, dieselfde is as om ‘n huis te bou. Dit help nie jy het die mooiste meubels, maar die huis se fondasie is swak nie. “Dit help nie net om die mooiste ‘nail art’ te kan doen, maar die kliënt se naels hou nie!”
Maryke het in 2011 haar naelkursus by Nails for You voltooi. Sy het skoonheidsbehandelings soos gesigbehandelings gedoen, maar het besluit om in naels te spesialiseer.
“Die lekkerste deel van my werk is as ‘n kliënt gelukkig hier uitstap. As sy gemaklik en gelukkig is met die eindresultaat, is ek ook baie gelukkig! Die slegste deel van my werk is as ek volgeboek is en ek ongelukkig ‘n kliënt moet wegwys.”
Maryke vertel wat elke jaar vir haar ‘n lekker uitdaging is, is wanneer kliënte oor Kerstyd oulike Kersidees soos Kersvadertjies of geskenkboksies op hulle naels geverf wil hê.
Haar raad aan ander dames wat ook droom daarvan om naeltegnikusse te word, is om daarvoor te gaan. “Go for it. Moenie dat mense vir jou sê dis net naels nie. As jy jou passie uitleef, kan jy ‘n lewe maak daarvan. Dit gaan ook nie net oor die geld nie, maar oor jou liefde vir wat jy doen. As dit jou droom is, moenie dat mense jou terughou nie!
Nails by Maryke is geleë in Du Plessislaan 27, Langenhovenpark.



