Inwoners in Broadwaystraat kan so te sê vis van hulle voorstoepe af vang, aangesien daar al sedert 2009 ’n rivier weens stopkrane wat lek, in die straat gevorm het.
Die Jonker Court-woonstelle het self ook ’n waterlek wat al vir sewe maand stroom.
Ockie Fourie, DA-raadslid van Wyk 25, sê die probleme is al menige male by verskeie persone van die Sol Plaatje-munisipaliteit aangemeld.
“Die water wat so in die pad lê, kom al van 2009 af. Die stormwaterdreine is verstop, wat maak dat water nie kan wegvloei nie. Maar dit is nie die enigste probleem nie. Die grootste probleem is die stopkrane wat lek en veroorsaak dat die water daar versamel.”
Hy sê ook daar loop duisende liters water by Jonkers Court se woonstelle weg.
“Die lekplek is nie groot nie en sal maklik reggemaak kan word, maar dit is in sewe maande nog nie herstel nie. Die lek maak ook dat die waterdruk van die woonstelle baie swak is.”
Kimberley Online Co. het navraag by Sol-Plaatje-munisipaliteit gedoen en wag vir terugvoer.




