Leerling (17) steek glo mede-leerling dood oor selfoon

Deel hierdie storie / Share this story

VRYSTAAT. – ‘n Leerling (19) is glo tydens ‘n bakleiery oor ‘n selfoon by ‘n skool op Harrismith deur ‘n ander leerling (17) doodgesteek.

Die polisie op Harrismith het Donderdag omstreeks 14:10 reageer op ‘n klagte dat ‘n persoon glo by Hoërskool Lerato Thando in Intabazwe met ‘n mes doodgesteek is.

“Toe die polisie op die toneel aankom, is hulle na een van die klaskamers in die skool begelei waar hulle op die liggaam van ‘n leerling in ‘n plas bloed naby die klaskamer se deur afgekom het.”

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het ‘n graad 10-leerling glo na ‘n graad 11-klas gestap toe hy ‘n groep seuns wat met ‘n selfoon gespeel het, gesien het. “Die seun het toe na bewering die selfoon gegryp en geweier om dit vir die seuns terug te gee.”

Verder sê Makhele het die verdagte (17) toe na bewering ‘n mes by een van sy klasmaats gekry en die oorledene (19) een keer in sy bors gesteek. Hy het inmekaargesak en is dadelik op die toneel dood.

“Die leerling is op aanklag van moord in hegtenis geneem en hy verskyn na verwagting binnekort onder sy ouers se toesig in die Harrismith-landdroshof.”