OOS-KAAP. – ‘n Stasiebevelvoerder en haar kollega het Dinsdag uitsonderlike braafheid getoon toe dié twee polisiebeamptes met die onverwagte geboorte van ‘n babaseuntjie gehelp het.
Kapt. Nomachule Saki en haar kollega, konst. Vanessa Baartman, moes skielik as vroedvroue optree toe hulle ‘n vrou in Colchester gehelp het om geboorte te gee.
Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê ‘n verkeersbeampte het by die polisiestasie ingebars en gesê ‘n vrou is besig om geboorte te gee by ‘n huis in Colchester.
“Die twee vroulike beamptes, gretig om hulle hulp aan te bied, het dadelik die geboortenoodsaaklikhede soos handskoene bymekaargemaak. Toe die beamptes by die 30-jarige vrou kom, was sy reeds in kraam. Hulle het gehelp om haar pragtige, gesonde babaseun in die lewe te bring.”
Die baba se ouers het ook hulle dankbaarheid teenoor die polisiebeamptes uitgespreek.



