Boerevereniging staan saam vir kameras ná aanhoudende plundering by substasie

Deel hierdie storie / Share this story

Johan Viljoen, ‘n boer tussen Parys en Sasolburg, het onlangs die inisiatief geneem om ‘n kamerastelsel by die Tahiti-substasie in die Vrystaat op te stel om die aanhoudende steel van kabels en plundering van die substasie te voorkom.

Viljoen gesels met FiND iT oor die uitdagings wat die boere in die gemeenskap op ‘n gereelde basis in die gesig staar.

“Ek dink die plundering en diefstal is maar ‘n gevolg van die min sekuriteit en die werkloosheid wat in Suid-Afrika vermeerder. Niemand kom regtig by die substasie nie en dis ‘n gulde geleentheid vir die plunderaars om tydens beurtkrag by die substasie te gaan plunder.”

Viljoen vertel die laaste keer wat die plunderaars op die substasie toegesak het, het hulle deur ‘n dubbel baksteenmuur gebreek.

“Ons is ‘n groot boeregemeenskap en daar is ook residensiële gebiede langs die Vaalrivier wat almal van die Tahiti-substasie afhanklik is,” vertel Johan. “Baie van die boere ly groot verliese wanneer die krag afgaan as gevolg van die plundering. Nou om 12:00 vandag sal ons al 72 uur sonder krag wees.”

Viljoen sê hy glo beslis dat die installering van die kamerastelsel vir die hele gemeenskap in die omgewing voordelig sal wees. “Die kamerastelsel wat ons beplan om te laat installeer, het nagvisie en hittesensors en sal onmiddellik optel as daar selfs net beweging rondom die substasie is. Ons beplan ook om met ‘n sekuriteitsmaatskappy saam te werk wat, sodra daar beweging in die beheerkamer opgetel word, vir ons ‘n voertuig beskikbaar sal stel sodat ons kan keer dat plundering en diefstal plaasvind.”

Die kameras is vir R130 000 gekwoteer en Viljoen sê die boeregemeenskap is tans besig om die geld te probeer bymekaarmaak.

Buiten dié inisiatief, het die boeregemeenskap in die omgewing reeds ‘n baie goeie kameranetwerk in die omgewing laat installeer. Viljoen sê die polisie klop gereeld aan hulle deure vir inligting, omdat die kameras selfs ‘n stelsel het wat nommerplate kan “flag” en hulle so op die uitkyk kan wees vir verdagte voertuie of gedrag in die omgewing.

Viljoen sê die moontlikheid bestaan dat Eskom maandeliks die moniteringsfooi vir die kameras kan betaal as dit eers geïnstalleer is.

Volgens Viljoen is niemand nog in hegtenis geneem oor die plundering en diefstal nie.