Die !Kheis-munisipaliteit vra die gemeenskap om verskoning oor ‘n eis wat hy moet uitbetaal nou veroorsaak dat basiese dienslewering in dié streek nie kan plaasvind nie.
Die balju van die plaaslike hof op Groblershoop het vier voertuie wat aan die munisipaliteit behoort het, gekonfiskeer.
Volgens ‘n verklaring wat die !Kheis-munisipaliteit uitgereik het, het die hooggeregshof in die Noord-Kaap ‘n eksekusiebrief uitgereik wat dié konfiskering versoek het.
Volgens die munisipaliteit is dié gebeure ‘n gevolg van die saak van ‘n motoris wat ‘n perd raakgery het en ernstige beserings opgedoen het.
“Die saak is in Januarie 2021 afgehandel toe die hof verklaar het die munisipaliteit moet R2,4 miljoen van die oorspronklike eis van R5,4 miljoen aan die eiser betaal.”
Die munisipaliteit het volgens die verklaring ook die provinsiale tesourie se hulp gevra om dié onkostes te dek, maar sonder sukses.
“Dié keuse van die balju het ernstige gevolge gehad vir dienslewering in dié munisipaliteitsdistrik. Dit kan die verspreiding van water na gemeenskappe sonder waterlyne en vullisverwydering beïnvloed.”
Verder sê die munisipaliteit hy wil die gemeenskap om verskoning vra en ook sy dankbaarheid uitspreek oor hulle ondersteuning in die moeilike tye.



