Carin Dormehl (37), apteker en mamma van twee dogters, het op 9 Oktober in die tweede plek vir vroue by die African Otter Trail Run geëindig.
Carin, wat al vir sewe jaar in Bloemfontein woon, is oorspronklik van Barkly-Oos en sê Barkly bly maar haar huis. Sy en haar man, André (Tippy) Dormehl, se dogters is Kaylee (10) en Amy (9).
Carin het in Middelburg OK op ‘n plaas grootgeword. Sy het haar hele skoolloopbaan in haar tuisdorp deurgebring en aan Hoërskool Middelburg gematrikuleer. Ná skool het sy as trotse Puk aptekerswese studeer.
Sy vertel sy is van haar skooldae af baie lief vir sport en nuwe uitdagings. “Op die platteland het ons aan alle sport wat aangebied was, deelgeneem, omdat daar so min kinders was en ook om nie in studietyd in die koshuis hoef te wees nie,” skerts sy.
Atletiek was nog altyd Carin se eerste liefde, maar sy het gewoonlik kort- en middelafstande gehardloop. “Om meer as 5 km te hardloop, het soos werk gevoel!” Op universiteit het Carin aan alle koshuissport deelgeneem en sy het ook vir haar universiteit op die korfbal- en netbalbaan uitgedraf.
Toe sy begin werk het, het sy gereeld fiets gery. Sy vertel hoe sy begin bergfiets ry het op die plaas waar hulle op Barkly-Oos gewoon het. Sy het ook gereeld aan wedrenne deelgeneem en sê sy geniet dit vandag steeds vreeslik baie.
“Na my kinders gebore is, was daar nie meer genoeg tyd om fiets te ry nie, maar ek moes iets doen om my kop skoon te hou. En so het ek begin draf. Stadig maar seker.”
Carin het vanjaar vir die eerste maal aan die African Otter Trail Run van 42 km deelgeneem. Sy sê dit was vir haar baie uitdagend en dat sy die terrein heeltemal onderskat het. “Dit was baie meer tegnies as wat ek verwag het. En hulle sê daar is 7 000 trappe, maar dit het gevoel soos 10 000!”
Daar was in totaal 250 inskrywings vir die Challenge en 250 vir die Race.
Carin vertel hoe verbaas sy was toe sy die wedloop as die tweede vrou voltooi het. “Ek het regtig net gemik daarvoor om klaar te maak. Ek wou dit in agt ure voltooi. Die afsnytyd is 11 ure. So ek is baie trots op myself!”
Carin het die wedloop in 6:57:14 voltooi.
“Dit is baie op en af en die “elevation gain” is 2 400 m. So die meeste opdraandes is baie steil en hoë trappe wat jy klim, en dit stap mens so vinnig as wat jy kan. En teen die afdraandes, wat baie tegnies is, dink ek is ek redelik goed in en het daar tyd opgemaak en dit gehardloop. En die bietjie wat gelyk is, hardloop jy.”
Carin vertel dis baie belangrik om voor die wedloop te oefen. Sy self oefen dwarsdeur die jaar en tel die tempo net op wanneer sy vir ‘n wedloop oefen. “Ek pas my oefenprogram maar by die werk en rondom my kinders aan. Ek maak die beste van die tyd wat tot my beskikking is!”
Vir dié spesifieke wedloop het Carin probeer om vier maal per week te hardloop en ook twee maal per week aan versterking en mobiliteit te werk saam met Herman Liebenberg, sportwetenskaplike, wat ook vir haar ‘n oefenprogram uitgewerk het.
Sy het 12 weke voor die wedloop met die program begin en alhoewel sy skielik met “runner’s knee” begin sukkel het en vir twee dae na mekaar nie kon oefen nie, het sy nie toegelaat dat dit haar onderkry nie.
Carin moes natuurlik emosioneel en geestelik ook vir die tawwe wedloop voorberei. “Ek het goeie ervaring met deursettingsvermoë oor die laaste vyf jaar opgedoen met ‘n paar Sky Runs en bergfietswedrenne waaraan ek deelgeneem het. En in November verlede jaar het ek die 100 km-Sky Run voltooi, en daar leer ‘n mens vasbyt. So ek weet my kop is sterk.”
Carin sê sy sal beslis in die toekoms weer aan dié wedloop deelneem. “Dis ongelooflik mooi en die organisering is briljant! En dit is op die SANpark se gronde, so net persone wat aan die Otter-staproete of ‘trail run’ deelneem, beweeg op dié terrein.”
Sy sê sy wil graag aan die Race-afdeling deelneem en haar vermoë gaan toets teen die professionele atlete.
“Wees jou eie kompetisie en probeer altyd om ‘n stappie verder te gaan as wat jy vantevore gegaan het. So sal jy altyd bo uitkom. En probeer is die beste geweer.”



