In pers Speedo’s deur die strate vir kanker

Deel hierdie storie / Share this story

FiND iT gesels met Jaco Colyn en Herman Liebenberg wat saam met drie ander vriende aan die Daredevil-wedloop in Bloemfontein deelgeneem het.

Jaco vertel hoe hulle maar elke jaar gesien het dat die wedloop gehardloop word, maar nooit deelgeneem het nie. Herman Liebenberg, ‘n sportwetenskaplike wat ‘n gimnasium in Bloemfontein het, het aan die groep vriende voorgestel dat hulle die Daredevil-wedloop hardloop, en hulle het vinnig ingestem.

Die Daredevil-wedloop word jaarliks in verskeie dorpe gehardloop ter bewusmaking van spesifiek prostaat- en testikulêre kanker. Mans wat aan die wedloop deelneem, hardloop die 5 km deur die onderskeie dorpe in ‘n Speedo. Jaco vertel op dieselfde manier wat die mans “ontbloot” voel en uit hulle gemaksone beweeg om in Speedo’s te hardloop, voel hulle ook wanneer hulle ‘n prostaattoets laat doen.

“By braaie en geleenthede spot mans altyd oor prostaattoetse en wie daarvoor moet gaan. Dis maar ‘n ongemaklike storie! Maar op dié manier kan ons ander en ook onsself motiveer om uit ons gemaksone te kom en wel te gaan vir die ondersoek.”

“Ons almal ken maar iemand wat kanker het of iemand wat ons al aan die dood moes afstaan daaroor. Op dié manier met die bewusmaking kan ons lewens red, want hoe gouer jy daarmee gediagnoseer kan word, hoe beter.”

Jaco lag en sê dis glad nie gemaklik om in ‘n Speedo in die straat af te hardloop nie. “Ons het darem ‘n bril en ‘n hoed gedra, vir die mense wat regtig weet wie jy is! Maar dis die hele idee, om uit jou gemaksone te kom.”

‘n Gedeelte van die honderde inskrywings wat vanjaar in Bloemfontein was, se inskrywingsgeld gaan aan CANSA, spesifiek vir die prostaatkanker-afdeling.

Jaco vertel daar was selfs ‘n man wat vingeralleen in Knysna gehardloop het.

Die groep vriende, wat bestaan uit Jaco Colyn, ‘n fisioterapeut, Francois Jacobs, ‘n advokaat, Lesley Jacobs, eienaar van die FBI Chef School, Johan Jansen van Vuuren, ‘n eiendomsmakelaar en Herman Liebenberg, het besluit om 6 km in plaas van 5 km te hardloop.

“Daar was so baie mense wat langs die pad vir ons getoet of foto’s geneem het. Sommiges het ons sommer na die tyd bedank vir wat ons gedoen het!”

Jaco vertel hulle is almal gelukkig atlete, wat hulle gehelp het om die hele afstand te draf.

Jaco sê hulle beplan beslis om dit volgende jaar weer te doen.

Herman vertel dat dit vir hom ook baie beteken het om aan die wedloop te kon deelneem.

“Veral na die tyd. Op die einde van die dag besef jy, wanneer jy klaar uit jou gemaksone gekom het, dat jy jouself uitgedaag het. En dis daardie gevoel wat vir my uitstaan. Iemand sien miskien dat ons dit gedoen het, en voel dan dat as ons dít kon doen, hy vir ‘n prostaattoets kan gaan.”

Herman sê kanker is maar ‘n groot ding in sy familie, en ook vir een van die ouens wat saam met hulle gehardloop het wie se pa en ma kanker gehad het. “Na die tyd besef jy hoe belangrik dit is. Dat mense kom dankie sê vir jou ondersteuning.”

Herman sê ook hy sal volgende jaar nog mense by sy gimnasium kry wat saam aan die wedloop kan deelneem en op dié manier ‘n nóg groter impak maak.