NELSPRUIT. – Nelspruit MediClinic het geen antwoorde op ‘n navraag oor ‘n man wat kort ná hy die Pfizer-inenting ontvang het, verlam geraak het nie.
FiND iT het navraag by Nelspruit MediClinic gedoen ná Desmond Milligan (39) vertel het dat hy na die Pfizer-inenting verlam geraak het.
Milligan het in ‘n onderhoud met FiND iT gesê hy het ná hy die inenting geneem het, die gebruik van sy bene verloor. Lees die vorige berig hier.
Milligan het vertel hy het geen onderliggende siektes gehad nie en dat hy by verskeie dokters was om vas te stel wat die oorsaak van sy verlamming kon wees.
Milligan het sy eerste dosis van die inenting op 20 Julie gekry en op 23 Julie het hy migraines ontwikkel en só sleg gevoel dat hy vir ‘n dag moes verlof insit.
Hy is toe met transverse myelitis en ‘verlamming na Covid-19-inenting’ gediagnoseer. Hy vertel sy liggaam het homself begin aanval na die inenting.
FiND iT is in besit van Milligan se mediese verslae sedert hy die inenting ontvang het.
Nelspruit MediClinic se antwoorde op vrae soos of ‘n dokter by dié tak wel ‘n doktersbrief aan Milligan geskryf het en gesê het dat hy verlam is na hy die inenting ontvang het, of die hospitaal kon bevestig dat dit wat die dokter geskryf het, die waarheid is, wat die hospitaal se kommentaar is op die feit dat Milligan beweer dat hy verlam geraak het ná die inenting, of en hoe die saak ondersoek word, was die volgende:
“MediClinic kan nie konfidensiële pasiënte-inligting bekendmaak nie. Gesondheidswerkers en pasiënte kan enige newe-effekte van die inenting by die departement van gesondheid aanmeld.”
Verder sê die hospitaal hy kan slegs bevestig dat ligte newe-effekte soos kopseer of duiseligheid by pasiënte wat by dié hospitaal hulle inentings ontvang het, aangemeld is.



