Beste kliëntediens: Bénédictions Décor

Deel hierdie storie / Share this story

Bénédictions Décor in Bloemfontein is genomineer as een van die besighede in Bloemfontein wat die afgelope tyd ’n baie goeie diens gelewer het.

Ons gesels met Amanda Reinecke (50) oor haar besigheid waarvoor sy ‘n reuse passie en liefde ontwikkel het, oor hoe sy haar besigheid van niks af opgebou het en hoe belangrik goeie kliëntediens vir haar is. Sy gee ook raad aan ander entrepreneurs wat suksesvol wil wees.

Amanda en haar dogter en regterhand, Teneil van Tonder (23) en hulle vier werkers werk daagliks saam om van Bénédictions Décor die suksesvolle besigheid te maak wat dit vandag is.

Amanda het ook twee ander dogters van 25 en 14 jaar oud.

Bénédictions Décor, wat al vir agt jaar in Bloemfontein bestaan, spesialiseer in stoffering en restourasie van ou meubels en kaste.

Amanda vertel hoe sy haar besigheid op die been gebring het toe haar stokperdjie om meubels oor te verf, in ‘n groot liefde ontwikkel het en so haar eie besigheid geraak het. Sy het in ‘n tyd toe dit finansieel moeilik was vir haar en haar gesin besluit om verf te begin verkoop. “Ek het toe R3 000 nodig gehad en die geld wat ek wel gehad het, moes ek gebruik om die pot aan die kook te hou. Ek het teen my beginsels vir my twee sussies gevra om vir my geld te leen en elk het vir my R1 500 geleen. So het ek verf gekoop, die wins eenkant gesit en wéér nuwe voorraad gekoop. Voor ek my oë kon uitvee, het ek R10 000 gehad.”

Bénédictions Décor se leuse is “Don’t replace, revamp”, en dis wat Amanda daagliks vir ‘n groot groep kliënte in Bloemfontein doen.

“Deesdae is mense mos maar depressief en soek ‘n mens daardie lig in jou huis. Baie jongmense erf meubelstukke van hul ouers of grootouers en omdat hulle nie daardie selfde waarde aan die meubelstuk heg nie, word dié stukke gereeld weggegee en eindig dit op allerhande ander plekke. Wat ons egter doen, is om ná deeglike ondersoek om vas te stel wat die meubelstuk se geskiedenis is en wat die kliënt se behoeftes is, dié meubelstuk nuwe lewe te gee en só hulle leefplekkie weer mooi te maak.”

Amanda sê dis vir haar bitter belangrik om werklik na haar kliënte te luister en na elkeen se spesifieke behoeftes oor hul meubelstukke om te sien. Sy sê sy doen ook baie moeite om op hoogte te bly van wat in die mode is en die nuwe tipe materiale en tegnieke wat gebruik kan word.

Amanda vertel sy en Teneil hou ook gereeld meubelmentorklasse waartydens hulle enigiemand wat graag wil leer, wys hoe om stukke te restoureer, te verf, of sommer net mooi te maak. Dié kliënte raak dan weer van Amanda se verfkliënte en so het sy die laaste agt jaar aan haar droom gebou.

Sy vertel hoe sy met die begin van haar besigheid self baie groot projekte alleen aangepak het en dat sy voel al haar harde werk, ure en trane was eindelik die moeite werd.

“Dit was vir my ‘n ‘wow’-oomblik toe ek die oproep ontvang en hoor dat Bénédictions Décor is as een van die besighede wat die beste diens gelewer het, genomineer. Dis ‘amazing’, ek het hoendervleis gekry! Mense sien jou raak vir harde werk en ‘genuine’ goeie diens!” Amanda lag en sê sy is nie ‘wintie’ nie, maar trots.

Sy vertel hoeveel passie en moeite in haar werk ingaan en dat sy self persoonlik by elke meubelstuk se ‘revamp’-proses betrokke is. “Ek is ‘n ongelooflike perfeksionis en ek doen soveel moeite met kliënte se meubelstukke,” vertel Amanda, die passie só duidelik in haar stem. “Ek het soveel trots in dit wat ek doen!”

“Ek is net ‘n instrument. Die Here het vir my talent gegee en ek begrawe dit nie onder ‘n maatbeker nie.”

Amanda se raad aan ander entrepreneurs wat hul eie ding wil begin, is om klein te begin en self te leer hoe om alles in hulle besigheid te doen. “Alles wat jou personeel moet doen, moet jy ook self kan doen.” Sy sê ook dis goed om soos ‘n klein hondjie wat aanhoudend aan jou haksteen byt, te wees, en nooit moed op te gee nie. “En harde werk. Jy sal die vrugte van jou harde werk pluk!”

Bénédictions Décor is in Kwaggafontein in Bloemfontein en as jy miskien met Amanda wil gesels of ‘n foto stuur van iets wat jy wil laat ‘revamp’, kontak haar by 081 547 4718.